{MENINGSTUK} – Veltmanpark: Waar kinders moes lag…
Veltmanpark het van ’n veilige speelplek verval tot ’n drinkplek vol rommel, gebreekte toerusting en verwaarlosing.
‘n Wonderlike gemeenskapsinisiatief is sowat vyf jaar gelede van stapel gestuur, met die droom om dié park weer lewe te gee, ‘n plek vir die jongklomp, vir gesinne, vir vriende, selfs vir smoorverliefde tieners wat net ‘n oomblik vir hulleself soek.
Die bedoeling agter Veltmanpark was eerbaar, om iets vir die gemeenskap te skep, en veral vir kinders, hulle was immers die eintlike begunstigdes.
Maar soos soveel mooi dinge in die dorp, het ook dié droom stadig maar seker begin vervaag.
Onwaardeerd deur sommiges, en onverstaanbaar misbruik deur ander, het die lekker, skoon en mees inklusiewe uithangplek op die dorp in ‘n drinkplek vir grootmense ontaard en sommer ook ‘n teelaarde vir allerhande negatiewe elemente wat maar liewer elders moes bly.

LEES OOK: Ermelo-gemeenskap jag vir paaseiers by opgeknapte Veltman-parkie
Selfs toe oorspronklike rolspelers later weer probeer het om stukkende speelrame en swaaie reg te maak, betondwarslêers rondom die park aan te bring om motors uit te hou, en ‘n nuwe verflaag aan klimrame te gee, kon dit nie die destruktiewes oortuig om iets moois te laat mooi bly nie.
Wat eens ‘n watergat van saamkoms was, het ‘n suipgat geword.
Hoëvelder het vroegoggend op 12 Junie die park besoek.
Die ryp het soos ‘n wit kombers oor die gras gelê, en glas van leë drankbottels het in die oggendson blink onder die kameralens gelê.
Rondom die betonversperrings, daar waar motors gemaklik kan stilhou, lê hopies bottels en rommel soos klein monumente van onverskilligheid. En dit alles terwyl daar vullisdromme in die park is.

Dis nie dat die opsie nie bestaan nie. Die gemaklikste keuse blyk net eenvoudig te wees, los dit maar net daar waar jy gestaan het, goedsmoeds, sonder ‘n tweede gedagte.
SIEN OOK: GALERY – Ermelo-gemeenskap geniet opgeknapte park
‘n Dag of wat later sien mens soms hoe munisipale werkers opdaag om op te ruim, nie net hier nie, maar ook by die Petdam – nog ‘n gewilde suipgat.
Vir sommige inwoners is dit sekerlik iets om oor dankbaar te wees, iemand maak darem skoon. Hoe gerieflik is dit nie? Maak maar vuil, en kort daarna word alles agter jou opgetel.
En tog bly Veltmanpark ‘n plek met soveel moontlikhede.
‘n Droom lê steeds daar, onder die rommel, en wag net om weer raakgesien te word.
Dis maklik om ‘n park op te knap. Moeiliker om dit te bewaar en te onderhou. Maar dit sê baie van ‘n gemeenskap, nie net wat ons opgerig het nie, maar wat ons toegelaat het om agteruit te laat gaan.
Partykeer, is dít wat ons toelaat om te gebeur, die hardste getuienis van wie ons regtig is.



