Gebrek aan publiek se ingryping en interne politiek mag dalk lei tot Veltmanpark se ondergang
Weens sommige inwoners se onbedagsame gedrag is daar nie veel van die park oor om te kán geniet nie.
ERMELO – Msukaligwa Plaaslike Owerheid het die omgekeerde vrywaringsborde in Veltmanpark weer op hul oorspronklike plekke opgerig nadat hulle deur Hoëvelder se skrywe van die kwessie bewus gemaak is.
Die vraag is egter nóú, maak dit werklik saak?
Weens sommige inwoners se onbedagsame gedrag is daar nie veel van die park oor om te kán geniet nie.

LEES OOK: Boards at Veltman Park in Ermelo fall over
Gordyne, sokkies en kinderklere lê die wêreld besaai. Die opvallendste is die oorblyfsels van partytjies, glasskerwe van drankbottels, vullisdromme wat verwyder en waarin vuur gemaak is, en rommel oral waar jy kyk – bo-op van die klimrame en selfs reg langs die enigste oorblywende drom.

Daar is net drie swaaie van die oorspronklike ses oor, en hul veiligheid word nou bevraagteken. Die drom op die trekkerklimraam blyk elke week net meer ingeduik te wees.
Een van die inwoners wat betrokke by die opknapping daarvan was, Maryke Claassen, het haar hartseer, woede en verbystering oor die haglike toestand waarin die park nou is, uitgespreek.
Sy is ook van mening dat indien daar nie ingegryp word nie, die Veltmanpark ’n tweede Petdam gaan word.
Hoëvelder het ook ‘n stemboodskap van Silvija Breytenbach, nog ‘n rolspeler, ontvang waarin sy sê dat die grootste probleem volgens haar die mense is wat sien wat gebeur, maar niks daaromtrent doen nie.

“Dis makliker vir mense om agteroor te sit en te kla oor die agteruitgang as om die saak in eie hande te neem.”
Volgens ‘n betroubare bron is daar boonop interne politiek tussen verskeie rolspelers wat daartoe gelei het dat sommige mense hul van die park onttrek het.
Volgens die bron het bitter min mense betrokke geraak vir die erkenning. Hulle meen egter dat sommiges die projek gekaap het en al die glorie wou opeis terwyl ander se bydrae gereduseer is.

Lees meer hieroor in die Hoëvelder.



