Community galleriesLocal news

Ermeloër alleen op sy ysterperd op Namibiese grondpaaie

Met sy tent en bagasie op sy motorfiets kom hy op ’n erge sinkplaatpad aan wat hom na Spitzkoppe lei, maar kort na sy aankoms besef hy sy tent is skoonveld.

ERMELO – Gert Maré (29) het op 29 Desember sy rugsak met net die nodigste op sy ysterperd gepak en sy reis alleen deur Namibië aangepak.

Hy was van jongs af baie lief vir die buitelewe en altyd op soek na sy volgende avontuur. Hy het reeds verlede jaar saam met ‘n groep vriende deur Suid-Afrika getoer, maar het gevoel hy wil die vryheid, natuurskoon en avontuur van ’n vreemde land beleef.

Hy sê die enigste beplanning wat die toer geverg het, was sy vertrekdatum en sy eerste bestemming in Namibië. Daar was ook vaagweg hoe lank hy wil toer en van die plekke wat hy graag wou sien, maar vir die res het hy op die plaaslike mense vir hul insae oor die rigting wat hy moet inslaan, staatgemaak.

Dié onbeplande roetes het sy hart vinniger laat klop, veral wanneer hy homself by ’n kruispad bevind het en sy keuse van rigting die uitkoms van die toer verander het.

En só het hy van dag tot dag planne vir slaapplek gemaak.

Gert Maré op sy toer deur Namibië. Foto | Verskaf

“Ek het besluit om die toer met ’n motorfiets aan te pak, omdat ‘n mens op plekke kan uitkom en dinge kan sien wat jy nooit sal kan sien as jy met ’n voertuig ry nie,” het Maré gesê.

Soos elke avontuur sy uitdagings voor die dag lê, het Maré se eerste uitdaging hom in die gesig gestaar nog voor hy kon vertrek.

“Net voor my reis begin het, het ek besef my voorwiel het ’n gat in. Ek het ’n band by een van die plaaslike handelaars bestel, maar dit was nie betyds hier nie en hulle kon my toe net help met ’n binneband, en ek moes die langpad met die gaatjie en al aandurf. As dit nie vir oom Jan du Toit van Country Trax se raad vir die band was nie, sou ek dalk nooit begin het nie.”

So het hy vroegoggend op sy KTM 1150R gespring, met slegs sy tent, ’n paar items niebederfbare kos, ’n braairooster, ‘n ketel, ’n paar stelle ekstra klere en toiletware.

Kort na sy vertrek het ’n storm sy reis tot op Zeerust kortgeknip, en moes hy die eerste nag in Pretoria oornag. Van daar het hy tot in die hartjie van die Kalahari in Botswana gery, waar hy sy tent vir die eerste keer opgeslaan het.

Gert Maré op sy toer deur Namibië. Foto | Verskaf

Sy volgende bestemming was Hentiesbaai in Namibië, waar hy ook vir ’n paar dae by vriende oorgekuier het.

Met sy tent en bagasie op sy motorfiets kom hy op ’n erge sinkplaatpad aan wat hom na Spitzkoppe lei, maar kort na sy aankoms besef hy sy tent is skoonveld.

“Ek het vinnig ’n staanplek by die oord bespreek, en omdat dit al 19:00 was en hulle oor ’n uur sou sluit, verduidelik ek vinnig my tent is weg, en moet ek dus terugjaag om dit te soek.”

Hy spring toe op sy fiets en jaag al die pad terug met die hoop om sy tent te vind, maar die geluk was nie aan sy kant nie en hy keer leë hande terug.

Soos hy sy kampgoed uitpak en gereedmaak om die aand onder die sterre te slaap, vertel hy sy vriende in Hentiesbaai van die penarie met sy tent, en voor hy sy oë kon uitvee, gons die Facebook-groep “Hentiesbaai Gesels” van die nuus van ’n jongman wat alleen op sy motorfiets deur die land toer, en dié se verlore tent.

Die uiteinde was ’n onvergeetlike aand se slaap onder die sterre.

“’n Mens kan amper niks verruil om een aand onder die sterre te slaap nie, maar in my geval het ek my tent verruil, en as dit die prys is, sal ek dit elke keer doen. Dit was ’n asemrowende ervaring.”

Sedert die plasing op die sosiale groep het mense hom oral herken en is hy telkemale gevra of hy Gert met die ysterperd is, en almal wou weet of hy al sy tent gekry het.

Op sy reis deur Swakopmund en Walvisbaai het hy ’n nuwe tent aangeskaf.

Maré moes een laatmiddag op pad na Luderitz, iewers tussen Helmeringhuisen en Aus, kamp opslaan, en met sterk winde en die son wat reeds besig was om te sak, het hy vinnig ’n bos gekry om hom te beskerm.

Opgewonde oor die bos wat hy as beskutting sou kon gebruik, slaan hy inderhaas sy tent op, en net voor hy vir die aand kan rustig raak, besef hy met ’n skok dat die tent op ’n miernes staan.

“Nie enige miernes nie – ’n balbytermiernes! Met ’n groot gespook kon ek al die miere van die tent en myself afkry sonder te veel pyn. Ek moes toe laat spaander om ’n nuwe staanplek te soek, tent op te slaan en vuur te maak met baie min daglig oor.”

Lees die volledige berig in vandeesweek se Hoëvelder.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Highvelder News in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button