Man op plaas buite Ermelo vermoor
Die man is op die plaas buite Ermelo deur ’n lid van ACSU opgemerk.
ERMELO- Die liggaam van ‘n 59-jarige man is op 21 Desember om 22:00 in die woonkamer van hul huis op ‘n plaas buite Ermelo gevind.
Volgens kapt. Carla Prinsloo, woordvoerder van Ermelo polisie, het ‘n lid van Acsu op die liggaam afgekom en was daar tekens van ‘n struweling in die huis.
”Die vrou van die oorledene was in Middelburg ten tye van die insident,” het Prinsloo gesê.
Sy het bure van ‘n naburige plaas versoek om ondersoek te gaan instel nadat sy haar man verskeie kere probeer skakel het en hy nie op enige oproepe of boodskappe gereageer het nie.
Na bewering het die bure na die plaas gery, maar kon nie toegang tot die werf verkry nie.
Die bure het ‘n onbekende man by die agterdeur van die huis opgemerk.
‘n Lid van ACSU is daarna versoek om verdere ondersoek in te stel en het die op die liggaam van die oorledene afgekom.
“Dis nog nie bekend wat die motief vir die moord was nie.”
‘n Rooi Toyota bakkie met registrasie nommer HFD 027 MP was vermis.
Volgens inligting wat op die Bethal Landelike Veiligheid-groep gedeel is, is dit egter gistermiddag tussen 12:00 en 13:00 opgemerk in die Breyten omgewing en later gevind.
Dis onduidelik of daar enige ander items vermis word.
Prinsloo het gesê die identiteit van die oorledene word weerhou tot en met amptelike uitkenning.



