Plaaslike motorfietsryers trotseer IMPI Hard Enduro
Meer as 1 200 motorfietsryers, onder wie verskeie uit Ermelo, het van 2 tot 4 Julie aan een van Suid-Afrika se mees uitdagende motorfietsbyeenkomste, die 2026 IMPI Hard Enduro, deelgeneem. Die kompetisie het deelnemers oor 'n 292 km-roete van uiters tegniese en veeleisende terrein geneem. Anders as motocross of tradisionele enduro, waar spoed dikwels die
Meer as 1 200 motorfietsryers, onder wie verskeie uit Ermelo, het van 2 tot 4 Julie aan een van Suid-Afrika se mees uitdagende motorfietsbyeenkomste, die 2026 IMPI Hard Enduro, deelgeneem.
Die kompetisie het deelnemers oor ‘n
292 km-roete van uiters tegniese en veeleisende terrein geneem. Anders as motocross of tradisionele enduro, waar spoed dikwels die deurslag gee, toets Hard Enduro ryers se uithouvermoë, tegniese vaardighede en probleemoplossingsvermoë.
Deelnemers moes steil bergklimme, rotse, uitgestrekte klipvelde, diep rivierkruisings, modderslote en omgevalde bome trotseer. Daar was ook geen ondersteuning langs die roete nie, wat beteken het dat ryers hul eie gereedskap moes saamneem en hul motorfietse self moes herstel wanneer probleme opgeduik het.
Onder die plaaslike deelnemers was Willem Jacobsz, wat in die Silver-klas meegeding het. Altesaam 394 ryers het vir dié klas ingeskryf, waarvan slegs 167 die uitmergelende uitdaging suksesvol voltooi het. Jacobsz het ‘n verdienstelike 48ste plek behaal met ‘n totale tyd van 12:14:37.
Stiaan van den Heever het in die Gold-klas deelgeneem en die eerste dag sterk begin deur 31ste te lê. Sy wedren is egter kortgeknip nadat hy sy toon beseer het en nie op die tweede dag kon voortgaan nie. Hy is uiteindelik 52ste algeheel in die Gold-afdeling geklassifiseer.
Nog twee plaaslike ryers, Paul van Niekerk en Niel Rautenbach, het in die Iron-klas deelgeneem en die uitdagende bergroetes aangedurf. Van Niekerk het 37ste algeheel geëindig, terwyl Rautenbach die 70ste plek behaal het.
Paulus van Niekerk het ook in die Silver-klas meegeding, maar kon ongelukkig nie die eerste dag voltooi nie.
Ondanks beserings en die uiters moeilike omstandighede het die Ermelo-ryers hul deursettingsvermoë en vasberadenheid bewys tydens een van die land se mees uitdagende Hard Enduro-wedrenne.








