Local news

{GRAFIESE FOTO’S} – Baie vrae na jong man (19) se beenamputasie in Ermelo hospitaal

Sy ouboet het na hom begin soek en die ergste verwag.

Elizma Visser, ‘n inwoner en enkelma van Pretoria, het verlede Desember ‘n ontstellende oproep ontvang oor haar 19-jarige seun, Rynard de Waal Silver, wat aanvanklik as vermis aangemeld is na ‘n motorfietsongeluk op die dorp.

Rynard de Waal Silver en sy ma, Elizma Visser. Foto | Verskaf

Verdwyning na ongeluk

Silver was op 7 Desember in ‘n motorfietsongeluk in Kerkstraat betrokke. Sy werkgewer was genoop om Silver se pa en ouer broer te skakel vir inligting toe hy nie vir werk opgedaag het nie.

Elizma wat met ‘n kliënt op daardie oomblik besig was, het opgemerk dat sy oproepe van die pa en ouer broer gemis het.

Sy het gesê, “Toe ek sien altwee het my gesoek, toe weet ek dadelik iets is fout.”

Wanhopige soektog

Paniekbevange dat sy jongerbroer iewers beseer lê, het Rynard se ouboet ‘n soektog begin by die polisiestasie en later by die Ermelo Provinsiale Hospitaal.

Die hospitaalpersoneel het glo aanvanklik ontken dat enige jong man in die afgelope twee dae opgeneem is.

Later dieselfde middag, na volgehoue navrae, het hulle bevestig dat Silver wel in die hospitaal was.

Elizma het daarheen gehaas en gesê dat daar gebruikte naalde op die grond rondgelê het, en dat Silver se kateter tot oorlopens toe vol was.

Van die bebloede beddegoed was vir ’n geruime tyd nie omgeruil nie. Foto | Verskaf

Nagmerrie ontvou in die hospitaal

Silver is gediagnoseer met ‘n oop fraktuur aan sy linkermaermerrie. Elizma vertel van die aangrypende ervaring waar haar seun ses dae lank moes wag vir ‘n operasie weens ‘n foutiewe lugversorgingstelsel in die teater, wat daartoe gelei het dat die operasie nie dadelik uitgevoer kon word nie.

Infeksie het gevolg, wat uiteindelik gelei het tot die hartseer besluit om sy been te amputeer.

Silver se diagnose was ’n oop fraktuur op sy linkermaermerrie. Foto | Verskaf

Visser beweer dat haar seun ure lank met ‘n oop wond gelê het na ontoereikende aanvanklike behandeling. Ten spyte van belowende sprake van fisioterapie en rehabilitasie, wat nooit sou plaasvind nie.

“My kind se been het begin vrot!” sê Visser

Rynard de Waal Silver in Ermelo Hospitaal voor die amputasie. Foto | Verskaf/Elizma Visser

Uit die hospitaal

Na die operasie het Silver se broer hom ontslaan, toegerus met ‘n loopraam en ‘n verkeerde dosis Tramadol wat deur die hospitaal voorgeskryf is.

Die voorskrif het aangedui dat een tablet elke agt uur geneem moet word, maar Silver moes eintlik twee elke twee tot vier uur neem volgens Elizma.

Toe sy haar seun sien ly onder ondraaglike pyn, het Visser ingegryp en hom terug na Pretoria geneem vir sorg terwyl sy steeds voltydse werk.

Rynard de Waal Silver (19) voor sy motorfietsongeluk. Foto | Verskaf

Strewe na geregtigheid

Pogings is aangewend om kommentaar by die owerhede te verkry. Die hospitaal se hoof- uitvoerende beampte, Jantjie Apane, sê dat hy nie meer daar werk nie. Die Mpumalanga Departement van Gesondheid se woordvoerder, Dumisani Malamule, is ook per e-pos, WhatsApp en telefonies gekontak, maar Hoëvelder het teen die ter perse gaan nog geen kommentaar ontvang nie.

Lees die volledige berig in Hoëvelder.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Highvelder News in Google News and Top Stories.

Wayne van der Walt

Wayne van der Walt, with around 15 years in the media industry, is editor of Highvelder Newspaper. His accolades include Frewin Awards for Newspaper of the Year and Front Page of the Year, and FCJ Photographer of the Year, among other honours.

Related Articles

Back to top button