Community galleriesLocal news

Ermelo-gemeenskap groet Sticks Steyn ná skielike afsterwe

Sy dogter het gesê dat hy altyd uit sy pad gegaan het om ander te help.

Die gemeenskap is in rou gedompel ná die afsterwe van Johannes Jurgens Steyn, meer bekend as Sticks.

Hy was veral in die motorbedryf en op die rolbalbaan goed bekend, en was ook deel van die MOTH-klub.

Sy dogter, Anecke Saunders, sê dat hy op 1 Februarie in Bethlehem oorlede is en dat hulle nog onseker is van die oorsaak van sy dood.

Ralph Badenhorst, Pauline Greyling, Jan Kirk, Gerrie Oosthuizen, Johan Fourie en Gerrie van den Heever by die roudiens. Foto | Verskaf/Ermelo MOTHs

“My pa is met slegs een nier gebore, maar het ook vreeslike hartprobleme gehad. Die laaste sowat vier maande het hy net erg begin sukkel met waterretensie. Die bloedtoetse se uitslae was nog nie terug teen die tyd van sy afsterwe nie, en die dokter het ons ingelig dat hy moontlik aan nier- of hartversaking oorlede is,” het sy gesê.

Steyn is op 27 April 1954 in Ermelo gebore. Hy het sy bynaam, Sticks, gekry as gevolg van sy maer bene.

Sticks Steyn tydens sy laaste skoolreünie. Foto | Verskaf/Anecke Saunders

Hy het sy skoolloopbaan by Hoërskool Ermelo voltooi, waar hy as skrumskakel vir die eerste span gespeel het.

Ná skool het hy vir ‘n hele paar jaar geboer.

Daarna het hy sy liefde vir die motorbedryf ontdek.

Hy het hierdie loopbaan by Lebombo Motors begin, en het ook daarna by verskeie motorhandelaars gewerk.

Lebombo Motors waar Sticks se liefde vir voertuie ontstaan het. Foto | Verskaf/Anecke Saunders

“My pa het ook al die toekenning vir die top verkoopsman ontvang.”

Saunders het haar pa as ‘n georganiseerde mens, vir wie netheid op homself en sy werk baie belangrik was, beskryf. Sy sê dat hy altyd uit sy pad gegaan het om ander te help.

Aan goeie herinneringe van haar pa is daar geen tekort nie.

“Ek onthou as ‘n klein kind hoe ek altyd saam met hom gery het om voertuie te gaan aflewer. Sy deoderantreuk sal vir altyd by my bly. Hy was gelukkig en het altyd ‘n glimlag op sy gesig gehad. Ek dink wat ek die meeste sal onthou is die respek waarmee hy met ander mense gepraat het.”

Lees die volledige berig in Hoëvelder.

Related Articles

 
Back to top button