Local news

Hou jou kinders veilig in en rondom water

Met die Desember-vakansie is daar baie tyd vir die kinders om in die water te baljaar, maar maak seker jou kind is veilig.

Jou swembad:

  • Jou swembad moet ten volle omhein wees met ’n hek wat vanself toemaak, toeknip en sluit. Dring aan op SABS spesifikasies. Die slot moet kinderbestand wees.
  • Ononderbroke ouertoesig is van kardinale belang wanneer kinders in en om water is. Stel ‘n verantwoordelike persoon aan om konstant toesig te hou, veral wanneer daar gaste is en jou aandag maklik afgelei kan word.
  • Maak seker daar is nie ’n potplant of boom wat kinders kan gebruik om oor die heining te klouter nie.
  • Moenie in die gewoonte kom om die hekkie oop te laat nie.
  • Die swembadnet of rigiede seil moet altyd op wees wanneer niemand swem nie. Maak seker jy verstaan hoe om dit reg te gebruik en laat diens dit volgens die installeerder se vereistes. Onthou, selfs ’n net van goeie gehalte is net veilig wanneer dit reg geïnstalleer en reg vasgemaak is.
  • ’n Swembadalarm (daar is verskeie soorte op die mark) sal jou waarsku wanneer iemand in die water is, maar dit moet nooit jou enigste veiligheidsmaatreël wees nie.
  • ‘n Hekalarm sal afgaan as die hekkie oopgaan, maar kan ook nie jou enigste maatreël wees nie.

 

Jou optrede:

  • Hoewel swemlesse belangrik is sodra jou kind oud genoeg is, moet jy nooit op swemspeelgoed of swemlesse alleen staatmaak om jou kind te beskerm nie.
  • Kinders mag nooit sonder volwasse toesig swem of alleen by die swembad speel nie. Waarsku jou kinders ook teen wild speel langs die swembad.
    Ondersoek vakansieverblyf wanneer onbekende huise besoek word vir watergevare.
  • Wanneer jy oor swemmende kinders waak, mag jy nie toelaat dat enigiets jou aandag aftrek nie. Moet nooit onder die invloed van alkohol na kinders omsien of swem nie.
  • Leer hoe om KPR te doen. Onthou enige poging is beter as geen. Weet wat om te doen in ‘n noodgeval.
  • Sodra jou kind kruip of loop, laat oefen hom/haar om met klere en al in die water om te draai en te dryf.
  • Leer jou kind om altyd te vra voor hy/sy gaan swem en nooit alleen te swem nie, ongeag van haar/sy swemvermoë of ouderdom, en nooit te duik of spring in onbekende water nie, of wanneer daar mense in die pad is nie.

En die bure of maats se swembad?

  • As die veiligheidsmaatreëls nie na wense is nie, maak seker jou kinders kan nie daar uitkom nie.
  • As jou kinders bedags by ’n oppasser tuisbly, maak seker sy kan swem en dat sy al die veiligheidsmaatreëls verstaan en dat sy opgelei word in KPR.


Nog wenke:

  • Moet nooit kinders alleen laat in die bad nie. Ignoreer die telefoon en deurklokkie, of neem jou kind saam.
  • Moet nooit ‘n baba of kleuter in die sorg van ‘n ouer boetie, sussie of ander kind laat nie.
  • Gebruik ’n nie-gly matjie in die bad.
  • Toilette moet met ’n veiligheidsknippie toe gehou word.
  • Maak baddens, emmers en klein plasswembadjies leeg as jy klaar is, stoor en moet dit nie laat rondstaan nie.
  • Sorg dat jou visdammetjie ook beveilig is.
  • Maak seker die tuinier verstaan ook die belangrikheid van waterveiligheid sodat hy nie die hekkie ooplaat of die net verwyder nie.
  • Sorg dat kinders nie toegang het tot die jacuzzi nie.
  • As julle naby ’n rivier, vlei of dam woon, maak seker jou tuin is omhein sodat die kinders nie by die waterbron kan kom nie.
  • Gebruik altyd reddingsbaadjies as julle in en om natuurlike water kamp of op ’n boot vaar.
  • Hou jou kinders dop op die strand en moenie swem waar daar nie lewensredders aan diens is nie. Swem tussen die rooi en geel vlaggies.
  • Leer noodnommers uit jou kop en maak seker dat wieookal jou kinders oppas ook die nommers ken en weet wat om in ’n noodgeval te doen.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Highvelder News in Google News and Top Stories.

Wayne van der Walt

Wayne van der Walt, with around 15 years in the media industry, is editor of Highvelder Newspaper. His accolades include Frewin Awards for Newspaper of the Year and Front Page of the Year, and FCJ Photographer of the Year, among other honours.

Related Articles

Back to top button