Ermelo-tiener mik vir akademiese droomreis na Dubai
Adoné en haar mededeelnemers sal drie privaat lesings by van Dubai se voorste universiteite bywoon.
ERMELO – Adoné Burger, ’n 16-jarige leerling van Ligbron, het ’n uitsonderlike geleentheid gekry om in Januarie volgende jaar aan ’n akademiese toer na Dubai deel te neem.
Hierdie reis beloof om haar bloot te stel aan nuwe kulture, en wêreldwye industrieë asook waardevolle leerervarings wat haar toekoms kan help vorm.
“Dit is ’n een-in-’n-leeftydervaring wat my horisonne sal verbreed en my die kans gee om op ’n internasionale vlak te leer,” sê Adoné opgewonde.
Die grootste uitdaging wat sy egter in die gesig staar, is die koste van die toer – ’n bedrag van R58 900.
“Ek werk hard om geld te spaar en verkoop goedere om my droom te verwesenlik,” verduidelik sy.
Vasberade om nie finansiële struikelblokke in die pad van haar akademiese aspirasies te laat staan nie, beplan Adoné om kolwyntjies en worsbroodjies te verkoop.
Sy het reeds verskeie ander inisiatiewe aangepak, insluitend werk vir SuperSport Schools en die verkoop van Herbalife-produkte, alles in ’n poging om hierdie geleentheid met albei hande aan te gryp.
Die akademiese toer sluit internasionale vlugte, sewe nagte se hotelverblyf, daaglikse ontbyt en aandete, asook privaat vervoer na verskeie besienswaardighede in.
Adoné en haar mededeelnemers sal drie privaat lesings by van Dubai se voorste universiteite bywoon, wat vir haar van groot akademiese belang sal wees.
Daar is ook ’n Engelssprekende toerbegeleier, inskrywings en kaartjies vir verskeie uitstappies, asook reisversekering, wat betaal moet word.
Adoné sien veral uit na die besoeke aan verskeie universiteite en die kans om nuwe mense te ontmoet. As ’n groot Formule 1-ondersteuner, is sy ook opgewonde oor Ferrari World – al klop haar hart eintlik vir Red Bull.

Benewens haar akademiese prestasies – waar sy onder die top 10-leerlinge in gr. 10 is – het Adoné ook ’n liefde vir die buitelewe.
Sy geniet visvang, die plaaslewe, skryf graag gedigte en hou daarvan om met haar hande te werk. Dit is dan ook geen verrassing dat haar gunstelingvak ingenieursgrafika en -ontwerp is nie.
Hoewel sy nog onseker is oor haar loopbaanrigting, oorweeg sy beroepe soos arbeidsterapie of fisioterapie, maar glo dat God eindelik haar in die regte rigting sal stuur.
Siende die toer volgende jaar eers plaasvind, skep dit vir Adoné nog ’n bietjie tyd om die nodige geld in te samel.
Sy doen ’n beroep op die gemeenskap vir enige vorm van ondersteuning, hetsy deur ’n donasie of bloot deur haar storie te deel.
“Enige bydrae, groot of klein, kan my nader aan hierdie ongelooflike geleentheid bring,” sê sy.
Vir diegene wat wil help of meer wil weet, kan Cindy, by 062 655 1050 geskakel word.
Lees die volledige berig in Hoëvelder.



