Local news

Oud-Ermeloër neem binnekort leisels by Paul Roos Gim oor

Hy put elke dag krag uit sy roeping as 'n Christen-opvoeder en die ondersteuning van sy gesin.

ERMELO – Jannie de Villiers sal binnekort die leisels as die nuwe rektor van Paul Roos Gimnasium oorneem.

Hy is op 11 Maart 1972 in Ermelo gebore en het sy skoolloopbaan by Laerskool Breyten afgeskop, waar hy in 1985 hoofseun was.

Hy het sy hoërskool-loopbaan by Hoërskool Ermelo voortgesit, waar hy in die koshuis gewoon het en ‘n lid van die leerlingraad was.

Jannie de Villiers. Foto | Verskaf

Ná skool het De Villiers by die PUK, Universiteit Stellenbosch en Universiteit van Kaapstad gestudeer.

Hy het ‘n BA honneursgraad van die Noordwes-Universiteit, ‘n hoër onderwysdiploma van die Universiteit Stellenbosch, en ‘n BEd honneursgraad van die Universiteit van Kaapstad (cum laude) voltooi.

Hy het ook die leierskapont-wikkelingsprogram aan die Wits Besigheidskool voltooi.

Hoewel hy aanvanklik regte wou studeer, het De Villiers gou besef dat sy roeping by die onderwys lê, veral deur sy ma, Jackie, geïnspireer.

“My inspirasie om die onderwys as loopbaan te kies het gekom van drie besonderse leerkragte – Louis Bates, wat my st. 3-onderwyser was en later skoolhoof van Laerskool Breyten, my ma, Jackie, wat ook Laerskool Breyten se skoolhoof was, en Vera Alberts, my Afrikaanse onderwyser by Hoërskool Ermelo,” het hy vertel.

Sy onderwysloopbaan het in 1996 by Hoërskool Swellendam begin. Twee jaar later het hy ‘n pos as Afrikaans- en geografie-onderwyser by Bishops Diocesan College in Kaapstad aanvaar waar hy vir sowat 19 jaar werksaam was.

In 2016 is De Villiers as hoof van Oakhill School in Knysna aangestel, waar hy in sy drie jaar termyn dié skoolgemeenskap deur die Knysna-vuurramp van 2017 gelei het en ook die mylpaal van hul 25ste bestaansjaar gevier het.

Volgens hom is hy as hoof ‘passievol oor die bou van gelukkige, doelgedrewe spanne deur by te dra tot individuele ontwikkeling, uitsonderlike werk- en leeromgewings te skep en ‘n gesonde skoolkultuur te vestig.’

In sy persoonlike hoedanigheid is De Villiers ‘n avonturier wat hou van bergklim, trail running en agterpaaie ry (met sy fiets of bakkie), maar hy geniet ook teater, letterkunde, kuns en musiek.

Hy put elke dag krag uit sy roeping as ‘n Christen-opvoeder en die ondersteuning van sy gesin.

Hy is getroud met Suzanne, ‘n ervare opvoeder in eie reg. Hulle het twee kinders, Alida (19), wat vanjaar haar studies in arbeidsterapie aan die Universiteit van Kaapstad
begin, en Jean (17), wat by St. Andrew’s College sal matrikuleer.

Die Paul Roos Gimnasium-gemeenskap verwelkom De Villiers en sy gesin en sien uit na ‘n lang en vervullende verbintenis.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Highvelder News in Google News and Top Stories.

Wayne van der Walt

Wayne van der Walt, with around 15 years in the media industry, is editor of Highvelder Newspaper. His accolades include Frewin Awards for Newspaper of the Year and Front Page of the Year, and FCJ Photographer of the Year, among other honours.

Related Articles

Back to top button