Morgenzon-boer verseker sy plek in Moer ’n Boer
Uit rofweg 200 boere, het Sias sy plek in die Moer ’n Boer seisoen 2 verseker na streng uitdunne.
MORGENZON – Sias Greyling (22), ‘n boer van die Plaas Tweefontein, het amptelik sy plek in die gewilde VIA-program, Moer ‘n Boer, verseker.
Moer ‘n Boer is ‘n unieke en uitdagende program wat ‘n groepie geharde boere oor ‘n paar maande, met opleiding in verskeie vegkunste deur hul passies neem.
Vandaar klim die boere in die kryt en laat mekaar so ‘n bietjie les opsê.
Daar was rofweg 200 boere van wie 80 uitgenooi is om aan streng uitdunne deel te neem.
Slegs ‘n klompie, sowat 20, sal uiteindelik aan die program deelneem.
Die deelnemers sal mekaar in gevegte uitdaag, wat nie net hul fisiese krag nie, maar ook hul geestelike volharding sal toets.
Die program word deur Cameron Saaiman, ‘n bantam-gewig- UFC-vegter en Janneman van den Berg van Versus Promosies aangebied.

Greyling het gr. 12 aan die Morgenzon Landbou Akademie voltooi en daarna sy kwalifikasie as dieselwerktuigkundige by Soltech verwerf.
Vandag boer hy saam met met sy pa op die familieplaas, wat Nguni- en Beefmaster-beeste en -skape insluit. Hy spekuleer ook saam met Willie Herbst in trekkers en implemente.
Nadat sy rugbyloopbaan op skool weens Covid-19 tot ‘n einde gekom het, het Greyling besluit om uitdagende sportsoorte na te jaag, iets wat deur Moer ‘n Boer, Seisoen 1, geïnspireer is.
Greyling, wat die Morgenzon Boerevereniging verteenwoordig, is vasbeslote om te bewys dat enige uitdaging met harde werk oorkom kan word.
“Ek wil vir mense wys dat met volgehoue deursettingsvermoë alles moontlik is.”
Greyling het in Oktober 2024 begin voorberei nadat hy besluit het om vir die program in te skryf.
Sedertdien werk hy weekliks oefensessies in om homself fisies en geestelik voor te berei vir die gevegte.
Lees die volledige berig in vandeesweek se Hoëvelder.



