Steven se stryd roer die harte van Hendrina se gemeenskap
Steven (2) se ouers het 'n beroep op die gemeenskap gedoen vir hulp na hy met spastiese serebrale gestremdheid gediagnoseer is.
HENDRINA – Dennis Pantazis en Elicia Kruger, die ouers van die tweejarige Steven, doen ‘n beroep op die gemeenskap om hulle seuntjie in sy stryd teen spastiese serebrale gestremdheid te ondersteun.
Steven, wat op 21 Mei 2023 in die Bethal Provinsiale Hospitaal gebore is, is ten spyte van sy diagnose, volgens sy ouers, ‘n ware sonstraal met ‘n aansteeklike glimlag wat vreugde in elke vertrek bring.
Ten spyte van die aanvanklike gerusstelling dat Steven ná sy geboorte gesond was, het hy op vyf maande ‘n ernstige kloniese konvulsiewe (voorheen grand mal) aanval gehad, en het sy ouers met hom na hul huisdokter gejaag.
Kruger het haar seun na ‘n pediater geneem wat hom ondersoek het en vir verdere CT-skanderings gestuur het.
Dit het aan die lig gekom dat Steven se serebellum nie ten volle ontwikkel het nie.

Teen agt maande het hy infantiele spasmas, ook bekend as West-sindroom, begin kry.
Die serebellum,’n belangrike deel van die brein wat in die agterbrein geleë is, speel ‘n deurslaggewende rol in motoriese beheer, balans en postuur.
Dit dra ook by tot kognitiewe funksies soos aandag en taal.
Die diagnose van serebrale gestremdheid, wat op 16 Mei 2024 deur ‘n pediatriese neuroloog in Johannesburg bevestig is, beteken dat Steven moontlik nooit sal kan loop of eenvoudige take, soos om ‘n knoop vas te maak, kan behartig nie.
Sy lae spiertonus beïnvloed sy kopbeheer en balans, wat daaglikse aktiwiteite en selfs om gemaklik te sit ‘n uitdaging maak.
Vir Dennis en Elicia was die diagnose ‘n traumatiese ervaring, ‘n besef dat hul seun se lewe anders sal wees as wat hulle ooit voorgestel het.
Die grootste uitdaging is om vrede te maak met die feit dat Steven nie soos ander seuntjies sal grootword nie, en om sy daaglikse aanvalle onder beheer te hou, terwyl hulle ook verseker dat sy lyfie nie spasties ontwikkel nie.
Lees die volledige berig in die Hoëvelder.



