Twee vermoedelik dood nadat boom op voertuig val op N17 buite Ermelo weens sterk wind
Sterk wind veroorsaak skade in Ermelo-omgewing met nooddienste wat na verskeie areas net buite die dorp ontbied is.
ERMELO – Twee mense is op 9 Junie vermoedelik dood nadat ’n boom op ’n minibus-taxi geval het op die N17 naby die Nooitgedacht Proefplaas tussen Ermelo en Bethal.
Volgens voorlopige inligting het sterk winde ’n boom ontwortel, wat op die taxi geval het.
Ondanks die impak het die voertuig nog ’n kort afstand verder beweeg voordat dit tot stilstand gekom het.

Nooddienspersoneel is steeds op die toneel besig.
Verkeer tussen Ermelo en die Bethal-tolhek is vertraag en motoriste word aangeraai om alternatiewe roetes te gebruik of geduldig te wees.
Sien al die foto’s: HIER
Op die Ermelo-Morgenzon-pad het nog ’n boom in die pad geval wat een baan versper.

Daar het Intussen ook ’n reuse-kerk tent van God Never Fail Ministries in Joubertstraat (R39), naby Cassimpark, ook onder die wind se mag geswig. Die tent is deur die lug gesleep en het skade aan omliggende strukture veroorsaak.
In Petstraat tussen Robertson en Jorissenstraat het daar ook ’n boom dwars oor die pad geval.
Die South African Community Crime Watch-groep se Theo Craven het motoriste gewaarsku om nie naby groot of onstabiele bome stil te hou nie. “Ons sien hoe hierdie sterk wind bome ontwortel en dit is eenvoudig nie veilig om naby sulke plekke te parkeer nie,” het Craven gesê.



