Bestuurder bots teen los watertenk op N17 naby Davel
’n Man het teen ’n los watertenk gebots naby Davel, maar is gelukkig ongedeerd. Sy motor is tydens die botsing beskadig.
DAVEL – ‘n Man is gelukkig ongedeerd nadat hy verlede Donderdag kort ná 20:00 teen ‘n groot plastiek watertenk wat in die middel van die pad gelê het, gebots het.
Die voorval het naby Davel plaasgevind toe die man ná sy werkskof op pad huis toe was.
Volgens sy ma het haar seun oor ‘n bult gery toe hy skielik die tenk in die pad voor hom sien lê het.
“Hy kon nie betyds uitswaai nie en het teen die tenk vasgery. Sy motor is beskadig, maar ons is baie dankbaar dat hy nie seergekry het nie.”
Foto’s wat verskaf is, wys die beskadigde watertenk wat in die gras langs die pad op sy sy lê asook die skade aan die voertuig.
Volgens die man, wat anoniem wou bly, blyk dit dat die tenk van ‘n bakkie of vragmotor afgeval het, waarskynlik omdat dit nie behoorlike vasgemaak is nie, en sodoende ‘n ernstige gevaar vir padgebruikers ingehou het.

In ‘n gesprek met Hoëvelder het hy bygevoeg: “Ek was verblind deur ‘n ander voertuig se hoofligte en kon ook nie sien wat agter die bult aangaan nie. Motoriste moet dalk maar net bietjie brieke aanlê wanneer hulle oor ‘n bult gaan, jy weet nooit wat aan die ander kant is nie.”
Hy het ook die optrede van wetstoepassers geprys.
“‘n Roetepatrollievoertuig het ten minste gestop om te kyk of ek oukei was, en het saam my gewag tot die insleepdienste opgedaag het.”
Sy voertuig is vandaar na Secunda toe gesleep. Hy het verlede Vrydag met sy versekering en die polisie geskakel om die nodige saaknommer te bekom.



