Klein Steven kry kans om te staan danksy gemeenskap se hulp
Die gemeenskap was vasberade om te verseker dat Steven bystand ontvang sodat sy lewensgehalte verbeter word.
HENDRINA – Die tweejarige Steven Pantazis, wie se stryd teen spastiese serebrale gestremdheid onlangs die harte van die gemeenskap geraak het, toon merkwaardige vordering danksy die onwrikbare steun van sy ouers, Dennis Pantazis en Elicia Kruger, asook die gemeenskap se vrygewigheid.
Steven, wat op 21 Mei 2023 met ’n onvolledige serebellum gebore is en met infantiele spasmas gediagnoseer is, het volgens sy ouers ’n ware sonstraal gebly te midde van al die uitdagings.
Die serebellum – ’n belangrike deel van die brein wat in die agterbrein geleë is – speel ’n deurslaggewende rol in motoriese beheer, balans en postuur.
Dit dra ook by tot kognitiewe funksies soos aandag en taal.

Die diagnose van serebrale gestremdheid, wat op 16 Mei 2024 deur ’n pediatriese neuroloog in Johannesburg bevestig is, beteken dat Steven moontlik nooit sal kan loop of eenvoudige take, soos om ’n knoop vas te maak, sal kan baasraak nie.
Met groot vreugde het Pantazis en Kruger vertel dat Steven onlangs sy SMO’s (supra-malleolêre ortoses) ontvang het.
Hierdie spesiale stutapparate is ontwerp om sy enkels te ondersteun en sy beweging te verbeter – ’n belangrike stap vorentoe in sy fisieke ontwikkeling.
Lees die volledige berig in Hoëvelder.



