AJ Stoop wys sy veggees, gewas krimp na behandeling
Vir die eerste twee maande ná die bestraling het AJ spelterapie gekry wat hom gehelp het om die trauma wat hy ervaar het, te verwerk.
ERMELO – Bykans ‘n jaar nadat AJ Stoop met vlak 2-ependimoomkanker gediagnoseer is, het die gewas ná sy bestralingsbehandeling gekrimp.
Nadat AJ verlede jaar sy intensiewe, vyf week lange bestraling op 14 Augustus voltooi het, was die wag vir die opvolg- MRI-skandering ‘n spanningsvolle tyd.
Sy ma, Tanya-Lee, het destyds verduidelik dat die swelsel ná die behandeling ‘n lang wagperiode van 10 tot 16 weke genoodsaak het.
Die skandering aan die begin van die jaar het egter die positiewe nuus bevestig – die gewas het gekrimp.
Die gesin wag nou met afwagting op die volgende een op 11 Augustus.

Die afgelope maande was ‘n tydperk van herstel en aanpassing vir die energieke kleuter.
Vir die eerste twee maande ná die bestraling het AJ spelterapie gekry wat hom gehelp het om die trauma wat hy ervaar het, te verwerk.
Dié terapie was ‘n groot sukses, en Tanya-Lee het gesê dat hy van sy vrese vir pleisters en dokters oorkom het.
Verder het swemlesse voor die winter begin het, wonderwerke verrig om sy spiere te versterk.
“AJ is nou in gr. RR en vaar uitstekend – ‘n bewys dat hy nooit opgee nie,” het sy
ma gesê.
Lees die volledige berig in die Hoëvelder.



