Bederf ’n ouma of oupa hierdie Kersfees
Bejaardes word nou landswyd met geskenke bederf wat met liefde en sorg deur vrygewige skenkers saamgestel word, gebaseer op hul persoonlike wenslysies.
ERMELO – In 2018 het die Ouma en Oupa-Kersprojek met ’n eenvoudige, maar diepgewortelde wens begin, om die harte van ons oumas en oupas warm te maak en hulle met die liefde en sorg wat hulle só verdien te bederf, veral gedurende die feestyd.
Die idee wat as ’n klein gemeenskapsprojek begin het, het gou in ’n niewinsgewende organisasie ontwikkel.
Bejaardes word nou landswyd met geskenke bederf wat met liefde en sorg deur vrygewige skenkers saamgestel word, gebaseer op hul persoonlike wenslysies.
“Ons nooi individue en besighede uit om ons Kersgeskenk-inisiatief vir bejaardes in ouetehuise te ondersteun,” het Cherice Purcocks, een van die organiseerders tydens ’n vorige onderhoud gesê.
Mense kan betrokke raak deur te registreer om ’n wenslysie te ontvang.
Vir die meeste van die bejaardes, bestaan hul wenslys hoofsaaklik uit noodsaaklikhede soos toiletware, lekkers en koekies, komberse of lugtyd om hul kleinkinders te bel.
Skenkers kan die oumaoupa.co.za skakel volg waar hulle ’n wenslysie sal ontvang wat die betrokke ouma of oupa se Kerswense aandui, ter waarde van R250.

Die persoon koop die wenslysie se inhoud aan en maak die geskenkboks op.
Die skenkers kan ook betrokke raak deur die funksie in Desember saam met die organisasie by te woon en hulle tyd en liefde aan die oumas en oupas te gee.
Vir meer inligting, of om deel te neem aan ons 2025-projek, stuur ’n e-pos aan admin@oumaoupa.co.za of kontak Marcelle Purcocks by 072 283 9252.



