Fritz se miniatuurwêreld is klein, fyn en vol detail
Toe finansiële druk tydens die Covid-inperking toeslaan, vou oom Fritz Müller nie sy hande nie – hy begin miniatuurvragmotors bou.
MKHONDO – Oom Fritz Müller het op 10 Julie saam met sy familie sy 70ste verjaardag gevier – vyf jaar nadat hy, soos soveel ander, tydens die Covid-inperking finansiële uitdagings in die gesig gestaar het.
Hy het egter destyds, toe dit druk gegaan het, besluit om nie sy lot te betreur nie, maar om iets sinvols met sy tyd en vaardighede te doen.
In plaas daarvan om hande gevou te sit, het hy sy jare lange ondervinding as motorwerktuigkundige ingespan om handgemaakte miniatuurmodelle van vragmotors, myn- en bosbouvoertuie en selfs visvanggereedskap te begin bou.

Sien meer foto’s van sy werk: HIER
Wat begin het as ’n manier om kop bo water te hou, het spoedig tot ’n geliefde onderneming ontwikkel wat hom in Mkhondo en landwyd vir sy fyn werk, groot geduld en hartlike geaardheid bekend gemaak het.
Sonder planne of duur toerusting gebruik hy sy vaardige hande en praktiese kop om elke model met sorg en karakter te bou.
Oom Fritz is in 2020 deur duisende navrae oorval nadat Hoëvelder oor hom berig het en sy eerste miniatuurmodelle op Facebook gedeel is.
“Ai, ek was totaal oorweldig,” het hy destyds vertel. “Ek het rêrig nie verwag dat soveel mense so opgewonde sou raak oor my ou goedjies nie.”
Die berig en foto’s van sy modelle is op ’n Facebook-blad wat sy familie vir hom begin het, gedeel, en het meer as ’n miljoen mense bereik, is sowat 10 000 keer gedeel en het bykans 4 000 ‘duimpies’ ontvang.

Lees in vandeesweek se Hoëvelder hoe dit nou met hom gaan.



