Ermelo-atleet bedank gemeenskap wat SA-atletiekdroom bewaarheid
Ná finansiële uitdagings het Ermelo se borge en inwoners saamgestaan om Marlioné se nasionale atletiekdroom te laat realiseer.
Die drome van die Hoërskool Ermelo-atleet, Marlioné Erasmus (16), het vanjaar ’n merkwaardige hoogtepunt bereik toe sy onlangs aan die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskappe in Kaapstad deelgeneem het, ’n geleentheid wat vroeër net ’n veraf droom was.
Ná Hoëvelder se berig oor haar kwalifikasie en die finansiële struikelblokke wat haar deelname bedreig het, het Ermelo se gemeenskap en borge saam gestaan om dié jong atleet se droom te bewaarheid.
Met hul ondersteuning kon sy uiteindelik haar spykers in die Groenpunt-stadion se blou tartan inslaan.
Sy het aan die 100 m, 200 m- en 400 m-aflos deelgeneem.
“Ek het nie medaljes gewen nie, maar dit was ’n groot voorreg om teen Suid-Afrika se topatlete mee te ding,” het sy gesê.
“Om vir die eerste keer die stadion binne te stap en te besef ek leef nou my droom, is iets wat ek vir altyd sal onthou.”
Vir Marlioné was die ervaring meer as net sport.
“Ek weet ek is nommer een in God se oë. Dit het my geleer om bly te wees vir ander wat goed presteer. Toe ek Tafelberg sien, het ek dadelik aan Matteus 17:20 gedink – dat geloof, al is dit so klein soos ’n mosterdsaadjie, berge kan versit.”

Haar ma, Cicile, en pa, Andries Koekemoer, sê die gemeenskap se goedhartigheid het hulle diep geraak.
“In ’n tyd waar almal finansieel swaar trek, is dit kosbaar om te sien hoe mense saam staan om ’n kind te help om haar droom uit te leef,” het Andries gesê.
Terug by die huis het Marlioné haar aandag op hokkie gevestig.
Sy is vir Hoërskool Ermelo se eerste span gekies, wat onlangs as die Mpumalangakampioene tydens die Noordvaal-hokkiereeks gekroon is.
Sy spits nou weer haar aandag op atletiek, met die oog op volgende jaar se SA’s.
Sy beplan ook om langer afstande aan te pak en droom daarvan om eendag saam met haar ouers ’n marathon, of selfs die Comrades, te voltooi.
Aan almal wat haar ondersteun het, het sy net een boodskap:
“Ek kan nie beskryf hoe dankbaar ek is nie. Elke bydrae, selfs net ’n bemoedigende boodskap, het gehelp om my droom waar te maak. Mag die Here elkeen ryklik seën.”



