Ouers kritiseer afwesigheid van noodhulp by sportgeleentheid toe Liggie-leerder by Witbank High ‘ineenstort’
’n Leerling van Ligbron Akademie is tydens ’n landloop-byeenkoms by Witbank High School na die hospitaal vervoer weens dihidrasie.
WITBANK – ’n leerling van Ligbron Akademie vir Tegnologie het op 13 Augustus tydens die landloopliga by Witbank High School in duidelike nood beland ná hy die o.18-seuns-wedloop voltooi het.
Volgens ’n ooggetuie, wie ook ’n ouer van ’n HTS Middelburg-leerling is, het die seun kort ná die wedloop inmekaar gesak, gebraak en rukbewegings getoon.
Verskeie ouers het hul verontwaardiging uitgespreek oor die organisering van die dag omdat daar klaarblyklik geen mediese personeel of ambulanse by die byeenkoms beskikbaar was nie.
Die ooggetuie het aan Hoëvelder gesê dat daar vier amptenare by die eindpunt gestasioneer was, maar dat nie een van hulle die kind gehelp het nie.
“Hy was só swak dat hy nie sy naam kon sê nie. Dit was ouers wat hom eerste gehelp en die ambulans ontbied het,” het sy gesê.
Die ouer meen die kind sou aan sy lot oorgelaat gewees het as ouers van HTS Middelburg nie ingegryp het nie.
“By ander sport is daar altyd ambulanse. Hier moes ouers die gaping vul,” het nog ’n ouer gesê.
Die ambulans het die leerder na Witbank Kosmos Hospitaal vervoer en hy is op ’n drup geplaas.
Ligbron het bevestig dat die leerder gedehidreer was, maar dat dit intussen met hom goed gaan.
“Ons afrigters bevestig wel dat daar nie ‘n “medic” was nie, maar daar was ouers wat onmiddelik gehelp het, van wie een ń verpleegsuster was.”
Die voorsitter van die Emalahleni- en Middelburg-sekondêre skole se landloopkomitee, P’niela Jansen van Nieuwenhuizen, het die weergawe van die ooggetuie weerspreek.
Sy het verduidelik dat protokol gevolg is en dat die leerder nooit aan sy lot oorgelaat is nie.
“Die leerder het nie in ’n mediese sin ‘ineengestort’ nie. Ná die 6 km-wedloop het hy homself op sy knieë laat sak met sy onderarms op die grond, ’n algemene herstelhouding, ná ’n lang wedloop.
“Hy het nie opgebring of stuiptrekkings gehad soos deur die een ouer aangedui nie. Daar was baie slym wat hy uitgespoeg het en hy het een of twee keer braakreflekse sonder braking gehad, wat nie ongewoon is tydens sulke wedlope nie,” het sy verduidelik.
Volgens haar was daar opgeleide personeel met noodhulpkwalifikasies teenwoordig, insluitend syself. Sy het vertel dat sy oor ’n vlak 2-noodhulpkwalifikasie beskik en besit ook haar eie noodhulpkissie.

“Ek was sowat vier meter van hom af en het sy toestand voortdurend gemonitor.”
Sy sê sy het later by die afrigter bevestiging gekry dat die leerder en sy ouers tevrede was met hoe die voorval hanteer is.
Die ouer was egter nie op die perseel toe die voorval plaasgevind het nie en is glo deur onderwysers gekontak om te hoor of hulle oor ’n mediese fonds beskik.
Die ooggetuie en nog ouers wie met die Hoëvelder in verbinding getree het, hou egter vol dat die erns van die voorval as gering afgemaak word en “toegesmeer” word.
Die beampte probeer dit nou laat lyk asof daar bekwame medici op die toneel was, maar hoekom was dit dan ouers van HTS wat hom met water afgekoel het, die ambulans gebel het en by hom gebly het en nie hierdie bekwame mense wat protokol gevolg het nie?
“Ons was eerste by die kind en het hom fisies gehelp, ons was nie vier meter weg nie ons het gesien hoe hy gebraak en geruk het.
Hoëvelder het probeer om die ouers van die betrokke atleet via die Ligbron Akademie vir Tegnologie se woordvoerder te kontak om ’n direkte perspektief by die berig in te sluit.
Vanweë die beperkings van die POPI-wetgewing kon die skool nie die ouers se besonderhede direk aan Hoëvelder verskaf nie, en was hulle terselfdertyd nie bereid om enige stappe te neem om direkte kommunikasie tussen die ouers en die media te fasiliteer nie.
Die koerant het verder die skool versoek om ten minste die ouers in kennis te stel van die publikasie se voorneme om oor die voorval te berig, sodat hulle self kon besluit of hulle hul kontakbesonderhede met die koerant wou deel. Die skool het ook nie hierop reageer nie.
Hoëvelder nooi dus die ouers van die betrokke leerling direk uit om met ons in verbinding te tree en hulle perspektief oor die voorval en die hantering daarvan te deel.
Die kind se identiteit is aan Hoëvelder bekend, maar word weerhou totdat hulle met die koerant in verbinding kon tree.
Die volledige berig, insluitend volle terugvoer van die ooggetuie, ander ouers, die skole en Jansen van Niewenhuizen, sal vandeesweek in Hoëvelder verskyn.



