Ermelo-man staan sterk teen slukdermkanker
Boonstra het op 29 Mei ’n endoskopie laat doen, waartydens ’n gewas in sy slukderm ontdek is en die diagnose op 5 Junie het bevestig dat dit kanker is.
ERMELO – Rudy Boonstra is onlangs met slukdermkanker gediagnoseer, en hoewel dié pad na herstel moeilik is, bly hy en sy gesin positief en hoopvol danksy die ondersteuning van hul gemeenskap.
Boonstra se eerste simptome het ongeveer vier maande gelede, toe hy gesukkel het om kos te sluk, begin.
Aanvanklik het dit net met vleis gebeur, maar het skielik erger en meer gereeld plaasgevind.
Terwyl hy in Standerton gewerk het, het sy kollega vir hom ’n vleispastei vir middagete aangebied – en dit het weer gebeur.
Sy baas het gesê hy moet dadelik na die dokter in Standerton gaan sodat hulle kan uitvind wat aangaan.

Boonstra het op 29 Mei ’n endoskopie laat doen, waartydens ’n gewas in sy slukderm ontdek is en die diagnose op 5 Junie het bevestig dat dit kanker is.
Hy is na Pretoria verwys, en na verskeie toetse en skanderings, is hy amptelik met slukdermkanker gediagnoseer.
Die kanker was waar die slukderm en maag bymekaarkom.
Op 25 Junie is hy geopereer, en na ’n meer as sewe uur lange prosedure, is die gewas verwyder.
Om toegang tot die kanker-area te kry, moes die dokters sy een long laat platval.
Tydens die operasie is 24 limfkliere verwyder, waarvan drie klein dele kanker bevat het.
Die gesin het ’n BackaBuddy-rekening begin om te help met onvoorsiene kostes en medisyne wat nie deur die mediese fonds gedek word nie.
Enige iemand wat die gesin wil ondersteun kan dié skakel volg; https://www.backabuddy.co.za/campaign/rudy-boonstra.



