VIDEO – Rondloperbeeste op Ermelo skep ’n ‘moowiese’ probleem
’n Bees se karkas is langs Camdenlaan gevind. Rondloperbeeste en die botsings wat daaruit volg, bly ’n groot bekommernis in die dorp.
ERMELO – Die voortdurende probleem van rondloperbeeste op die dorp het op 3 September ’n nuwe en kommerwekkende wending geneem toe ’n bees se karkas in ’n oop veld langs Camdenlaan naby Autumn Ridge in die Nomdeni-woonbuurt gevind is.
Langs die karkas het daar emmers water en ’n bak gestaan, tekens dat die dier moontlik sommer so in die oopte vir slagting bestem was.
Toe Hoëvelder die toneel besoek het, is twee persone daar naby opgemerk, maar hulle het die area verlaat toe hulle genader is. Dit is onseker of hulle dalk betrokke was.
Die veld is vol rommel en selfs hope glasbottels, waarskynlik vir herwinning, en die dier was langs ’n besoedelde stroompie.
Verskeie rondloperbeeste is ook daar opgemerk.
Hierdie voorval volg kort nadat motoriste onlangs in die dorp se strate en op nasionale paaie skade in botsings met beeste opgedoen het.
’n Vragmotorbestuurder het op die N17 vier beeste getref en met sy vragmotor by ’n heuwel afgestort, en in nóg ‘n voorval in Camdenlaan het ’n vrou in die donker met haar voertuig teen ’n bees gebots.
Die VF Plus-raadslid, Shobie Arnoldi, het reeds vroeër die munisipaliteit gekritiseer oor sy versuim om sy eie verordeninge af te dwing.
Arnoldi het sy kommer uitgespreek oor die onbekende oorsaak van dié bees se dood. “Was dit dalk bek-en-klouseer, miltsiekte of ’n ander aansteeklike siekte? Dit is in die vlei, en alles loop af na die Petdam,” het hy gesê.
Hy het bevestig dat hy reeds ’n klag by DARDLEA en COGTA ingedien het en versoek dat hulle die munisipaliteit bystaan om ’n skutstelsel op die been te bring.
Lees die volledige berig in Hoëvelder.



