Local news

VF Plus eis aksie teen rondloperbeeste in Ermelo

Die VF Plus het die munisipale bestuur reeds gewaarsku het oor die gevare van vee op paaie, moontlike skade aan eiendom en die verspreiding van siektes.

ERMELO – Die VF Plus-raadslid, Shobie Arnoldi, het die Msukaligwa Plaaslike Owerheid skerp gekritiseer oor hul onvermoë om die probleem van rondloperbeeste op die paaie en in tuine aan te spreek.

Volgens ‘n mediaverklaring wat op 11 Augustus uitgereik is, is die situasie ‘n direkte gevolg van die munisipaliteit se versuim om sy eie verordeninge streng toe te pas.

Arnoldi het aangedui dat die VF Plus die munisipale bestuur reeds op 14 September 2022 en weer op 24 Mei vanjaar gewaarsku het oor die gevare van vee op paaie, moontlike skade aan eiendom en die verspreiding van siektes, soos bek-en-klouseer.

Die inwoners meld gereeld rondloperdiere in die strate aan.

Die party se herhaalde skriftelike vrae oor ‘n munisipale skut en versoeke vir regulasies is volgens die mediaverklaring geïgnoreer.

“Die feit dat die kwessie nie op 29 Julie tydens die algemene raadsvergadering bespreek is nie, is ‘n oortreding van klousule 37.1 van die munisipaliteit se staande reëls. Hierdie klousule vereis dat sodanige skrywes skriftelik beantwoord moet word,” het Arnoldi gesê.

Volgens hom kon ‘n onlangse voorval op 6 Augustus, waar ‘n voertuig teen ‘n trop beeste gebots het en ernstige skade opgedoen het, voorkom word indien die munisipaliteit vroeër opgetree het.

“Munisipaliteite in Suid-Afrika is verantwoordelik vir die bestuur van rondloperdiere in openbare ruimtes en op paaie. Hierdie verantwoordelikheid word in nasionale wette soos die Munisipale Stelselswet (Wet 32 van 2000), sowel as in plaaslike verordeninge, uiteengesit.”

Die VF Plus het ‘n dringende skrywe aan die Mpumalanga Departement van Landbou, Landelike Ontwikkeling, Grond en Omgewingsake gestuur, asook aan die kantoor van die LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake om in te gryp.

Die VF Plus eis nou antwoorde op die volgende:
• Waarom die party se vorige briewe en versoeke onbeantwoord bly, ondanks die reëls?
• Of daar ‘n funksionele skut bestaan. Indien nie, wat is die plan om een te vestig?
• ‘n Afskrif van die toepaslike verordeninge.
• Wie gaan aanspreeklik gehou word vir die skade wat tot dusver veroorsaak is?
• Dat ‘n openbare kennisgewing in plaaslike koerante en op die munisipaliteit se sosiale media platforms gepubliseer word om die publiek te waarsku oor die gevare van rondloperdiere, die gevolge daarvan, en wat die wet daaroor sê.

“Inwoners het die reg om te weet wat aangaan en wat gedoen of nie gedoen word nie om hulle veiligheid te verseker en eiendom te beskerm,” het Arnoldi ten slotte gesê.

Die vragmotor wat vier beeste op die N17 getref het, het deur ‘n veiligheidsreling geploeg, teen ‘n steil afdraande afgery en etlike meters voor ‘n rivier tot stilstand gekom. Foto | Wayne van der Walt
Onlangse insidente 

Op 2 Junie het ‘n vragmotor vier beeste op die N17, 6 km buite Ermelo, getref.

Die vragmotorbestuurder, Andries Mashile, was van Boksburg na Lothair onderweg.

Mashile het vertel dat die botsing onvermydelik was, en die vragmotor het deur die padrelings teen ‘n steil heuwel afgestort.

Nooddienste was vinnig op die toneel en het bevind dat Mashile slegs geringe beserings opgedoen het.

Boere het gehelp om die beseerde en dooie diere van die pad af te verwyder.

Bo: ‘n Motoris se voertuig nadat sy teen ‘n bees gebots het.
Onder: Die inwoners meld gereeld rondloperdiere in die strate aan.
Foto | SACCW noodgroep

In ‘n ander voorval het ‘n vrou op 4 Julie om ongeveer 19:40 teen ‘n bees in Camdenlaan gebots.

Volgens haar was die straat pikdonker, met geen straatligte wat werk nie.

“Toe ek om die draai kom was daar skielik net die paar gloeiende groen oë voor my en hoewel ek probeer het om uit te swaai was dit te laat,” het sy gesê.

Sy het bygevoeg dat dit die beeste in die dorp ‘belaglik’ is en groot skade aan motoriste veroorsaak.

Hierdie voorvalle beklemtoon die dringende noodsaaklikheid vir munisipale optrede.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Highvelder News in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button