19-jarige Ermeloër rol voertuig, kry nuwe blik op die lewe
Die Terblanche-gesin bedank die gemeenskap en nooddienste vir hulle ondersteuning ná Charissa se motorrol-ongeluk.
ERMELO – Die 19-jarige Charissa Terblanche, ’n voormalige leerling van Ligbron Akademie vir Tegnologie, is besig om goed te herstel nadat haar voertuig op 6 September net buite Balfour gerol het.
Volgens haar ma, Yolandie, het die ongeluk laatmiddag plaasgevind terwyl Charissa alleen vanaf Potchefstroom op pad Ermelo toe was.
“Vyf minute nadat ek vir haar gesê het sy moet mooi ry, het sy my gebel met die woorde wat geen ma ooit wil hoor nie: ‘Mamma, ek het die kar gerol.’ Die ongeloof, vrees en benoudheid was seker die regte medisyne vir gryser hare en hoekom ouers later aan verswakte harte ly,” vertel sy.
Charissa het egter kalm gebly en haar ligging gestuur, wat vinnige bystand moontlik gemaak het. ER24-nooddienste, familie, asook vriende en vreemdelinge het binne minute by die toneel stilgehou.
Charissa is per ambulans hospitaal toe geneem, waar dit tot groot verligting geblyk het dat sy geen ernstige beserings opgedoen het nie, slegs kneusplekke, ligte harsingskudding, ’n seer knie en ’n paar snye.

Die familie het later die ongelukstoneel besoek en ook na die wrak, ’n Mitsubishi ASX wat al nege jaar deel van hul lewens was, in Vanderbijlpark gaan kyk.
“Dis ’n ysterkar wat op die regte plekke die houe gevat het,” het Yolandie dankbaar gesê. “Ons Vader se beskermende hand was oor my kind.”
Selfs te midde van die skok was Charissa bekommerd oor haar geliefde Yamaha-kitaar wat saam in die voertuig was.

Al het dit ’n paar houe gekry, kon sy dit die volgende aand weer speel.
’n Paar dae voor die ongeluk het sy vir haar oupa ’n liedjie geskryf en gespeel.
“Toe sy by die huis kom, het hy met trane in sy oë die kitaar self gaan haal en gesê: ‘Poppie, nou moet jy eers vir my daai liedjie speel.’ Sy het dit, met vars wonde en al vir hom gespeel,” het Yolandie vertel.
Lees die volledige berig in vandeesweek se gedrukte Hoëvelder.



