Een dood, talle beseer in botsing tussen taxi en Polo in Ermelo
Die bestuurder van die Polo is op die toneel gearresteer op ’n klag van strafbare manslag sowel as bestuur onder die invloed.
ERMELO – ’n Ernstige botsing tussen ’n taxi en ’n Volkswagen Polo op die hoek van Kerk- en Oosthuisestraat, het op 27 September tot die dood van een persoon gelei.
In die Volkswagen Polo was drie persone, die bestuurder en twee passasiers.
Een van die insittendes, ’n vrou, het noodlottige beserings opgedoen en het later in die hospitaal beswyk.
Die tweede passasier, ’n man, is ernstig beseer en is in die hospitaal behandel.
Die bestuurder van die Polo het slegs geringe beserings opgedoen, maar is op die toneel gearresteer op ’n klag van strafbare manslag sowel as bestuur onder die invloed.
In die taxi was daar vyf insittendes, insluitend die bestuurder. Al vier passasiers het slegs geringe beserings opgedoen.



