Local news

Ermelo-vrywilliger en haar man veg teen kanker en neurologiese siekte

Die Boonstra-familie het 'n BackaBuddy-rekening begin om hulle met onvoorsiene kostes en medisyne te ondersteun.

ERMELO – Die Boonstra-familie het onlangs na die gemeenskap uitgereik om hulle ouers te help: Chantal Boonstra, ‘n toegewyde vrywilliger en administrateur, en haar man, Rudy, wat tans teen slukdermkanker veg.

Chantal, wat aan veelvuldige sklerose ly en van ‘n rolstoel gebruik maak, is ‘n bekende figuur in die gemeenskap.

Hierdie dinamiese vrou dien as die administrateur vir 16 nutsgroepe en is ook die direkteur van die Suid-Afrikaanse gemeenskapsmisdaad-bewakinggroep en Ermelo Outreach.

Rudy en Chantal Boonstra, saam met hul kleinkind, Declan. Foto | Verskaf/Natasha Boonstra

Ten spyte van haar eie uitdagings, is sy die ruggraat van verskeie gemeenskaps-projekte.

Rudy is reeds geopereer en 24 limfknope is verwyder.

Hy ondergaan chemoterapie, en alhoewel die mediese fondse help, dek dit nie alle kostes nie.

Die Boonstra-familie het ‘n BackaBuddy-rekening begin om hulle met onvoorsiene kostes en medisyne te ondersteun.

Dié insameling gaan egter verder as net Rudy se mediese koste.

Chantal gebruik tans ‘n gewone rolstoel, maar haar toestand maak dit moeilik om selfstandig te beweeg en die familie probeer nou om vir haar ‘n elektriese rolstoel aan te skaf wat haar onafhanklikheid en mobiliteit sal teruggee.

Die personeel en kinders van Ark Christian School het reeds die voortou geneem en R6 200 ingesamel.

Die gesin benodig R20 970 vir die aankoop van die rolstoel.

Enige finansiële bydrae kan in die BackaBuddy-rekening geplaas word.

Die familie het die gemeenskap en ander organisasies vir hulle ondersteuning bedank.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Highvelder News in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button