Local news

Ermelo-leerder gekies vir internasionale netbaltoer na Dubai

Die totale koste vir die toer beloop R110 000 en sluit in akkommodasie, vervoer, etes, vlugkaartjies, ’n e-visum, paspoort, sakgeld en sportdrag.

Vir 16-jarige Kayla van Zyl, ’n leerder van Hoërskool Ermelo, het ’n groot droom onlangs ’n werklikheid geword toe sy as deel van die netbalspan gekies is wat in 2026 na Dubai gaan toer.

Die toer vind plaas vanaf 27 November tot 3 Desember 2026.

Kayla, wat haarself as ’n netbal-entoesias beskryf, het vertel haar passie vir die sport het in gr. 3 begin.

“Netbal beteken alles vir my. My passie het in gr. 7 selfs sterker geword, nadat ek van ’n voetoperasie moes herstel en al my tegniek weer van nuuts af moes opbou,” het sy vertel.

Sy voeg by dat sy geskok en opgewonde was toe sy van haar keuring hoor, en dat dit eers nie regtig soos werklikheid gevoel het nie.

Kayla skryf ’n groot deel van haar sukses toe aan harde werk en daaglikse toewyding wat blyk uit haar daaglikse roetine.

“Ek oefen elke dag, behalwe naweke, en spandeer so een tot twee ure aan fiksheids-, tegniek- en spierbou-oefeninge,” het sy verduidelik.

Die toer na Dubai, wat voortspruit uit ’n keuringswedstryd op 6 September 2025, bied nie net die geleentheid om internasionale ervaring op te doen nie, maar ook om nuwe mense te ontmoet en die naam van haar skool en gemeenskap hoog te hou.

Die totale koste vir die toer beloop R110 000 en sluit uitgawes in vir akkommodasie, vervoer, etes, vlugkaartjies, ’n e-visum, paspoort, sakgeld en persoonlike sportdrag.

Die familie is tans besig met fondsinsameling om hierdie geleentheid te bewerkstellig en het ’n BackaBuddy-blad geopen om te help met die insameling.

Vir Kayla is hierdie ervaring meer as net ’n toer. “Dit is ’n droom wat waar word. Geleenthede soos hierdie kom net een keer in ’n leeftyd,” het sy afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button