Verf ’n klippie en kom lê dit neer in Ermelo se Tuin van iets besonders
Help jou kinders om deel te word van iets besonders, verf klippies en bring dit na die gemeenskapstuin in Strijdomstraat.
ERMELO – ’n Plaaslike inwoner, Quinita Stoltz, het besluit om ’n klein stuk grond in Strijdomstraat in ’n kleurvolle en positiewe plek te omskep.
Die projek, bekend as die Tuin van iets besonders/Garden of something extraordinary het ten doel om die lappie grond in Strijdomstraat in ’n kleurvolle en positiewe ruimte te verander, wat geluk en gemeenskapsamehorigheid uitstraal.
Die afgelope naweek is die eerste stap geneem toe die area skoongemaak en voorbereiding gemaak is vir aanplantings en versierings. Die projek is egter nog in die ontwikkelingsfase, en die amptelike bekendstellingsdag sal op 1 November om 09:00 plaasvind, wanneer die tuintjie aan die publiek oopgestel sal word.
Stoltz moedig gesinne aan om nou reeds klippies by die huis te verf, met patrone, woorde of kleure wat blydskap bring. Hierdie klippe sal uiteindelik ’n rand om die tuin vorm en dien as simbool van Ermelo se samewerking en hoopvolle gees. Inwoners word aangemoedig om in groot getalle op 1 November dan by die tuin bymekaar te kom waar hulle hul klippies kan kom neerlê.
“Daar is geen sperdatum nie,” sê Stoltz. “Ek wil hê dit moet aanhou groei, ’n plek word waar almal kan bydra, en waar ons kan sien hoe klein dade ’n groot verskil maak.”
Mense sal dus selfs na 1 November steeds hulle klippe in die tuin kan kom neerlê.
Vir navrae kontak Quinita Stoltz by 076 368 2409.
Lees die volledige berig in Hoëvelder.



