Phatboys domineer die 8-bal liga-uitspele op Ermelo
Spelers van Witbank, Secunda, Ermelo en Bethal het aan die toernooi, wat by Phatboys plaasgevind het, deelgeneem.

Die plaaslike 8-bal potspeltrofeë is stewig in die hande van die Phatboys-klub, nadat hulle spanne beide die hoofuitspeelstryd én die plateafdeling van die onlangse ligakompetisie oorheers het.
Spelers van Witbank, Secunda, Ermelo en Bethal het aan die toernooi, wat uit agt spanne in die hoofuitspele en vier spanne in die plateafdeling, deelgeneem.
Drie van die agt spanne in die hoofuitspele was van Phatboys.
Die eindstryd het toe ook ’n klub-derby geword met die span van Phatboys 6 wat kragte teen hul klubgenote, Phatboys 1, gemeet het.

Phatboys 6, wat uit Thato Sebothoma, Lincoln Mavusa en Shannon van Wyk bestaan, het Piet Skhosana, Comfort Nhleko en Ashley Bruce van Phatboy 1 met 5-3 gewen om as die kampioene gekroon te word.
Escobar van Secunda het die derde plek ingeneem. Dié span het uit Marco Bender, O’Brien Joubert en Dino Moses bestaan.
In die plateafdeling het die Phatboys 5 die klub se oorwinning voortgesit deur Riverbank in die eindstryd te klop en sodoende as platekampioene gekroon te word.



