Hoop spruit ná stormverwoesting by Chrissiesmeer-egpaar
Byna ’n maand ná ’n boom tydens ’n storm op hul huis geval het, begin dinge stadig verbeter vir die Van den Heever-gesin van Chrissiesmeer.
CHRISSIESMEER — Byna ’n maand nadat ’n massiewe bloekomboom tydens ’n storm op hul huis neergestort het, is daar stadig maar seker lig aan die einde van die tonnel vir die Van den Heever-gesin.
Hoëvelder het Koos van den Heever op 17 Desember besoek, waar die gesin besig was om hul trek na ’n aangrensende gebou op die perseel te finaliseer.

Volgens Koos sterk Martelize goed aan, en dinge begin weer hoopvol voel.
Martelize, wat tydens die voorval in die vroeë oggendure van 24 November in die hoofslaapkamer was toe die boom op die dak neergestort het, is steeds besig om fisiek te herstel.
Sy het ’n kopwond opgedoen waar ’n gedeelte van haar kop oopgekloof is, en die wond is volgens Koos nog besig om te genees.
“Die dokters het aangedui dat die wond nog verder sal toegroei en dat die weefsel weer sal heg,” het hy gesê.
Martelize was nie tydens Hoëvelder se besoek tuis nie, maar Koos sê dit gaan goed met haar, en dat die trauma stadig plek maak vir dankbaarheid.
LEES OOK: Massiewe boom val op huis in Chrissiesmeer, vrou oorleef wonderbaarlik

“Ons kyk nog elke dag met verwondering terug. Dit kon só anders geëindig het,” het hy gesê. “Materialistiese goed kan vervang word, lewens nie – God is goed.”
Herstelwerk aan die beskadigde huis het nog nie begin nie, aangesien dele van die boom steeds verwyder word en die volle omvang van die strukturele skade eers bepaal moet word.
Die gesin bly intussen in die aangrensende woonstel op die perseel.

Die oorspronklike voorval het ’n golf van gemeenskapsamehorigheid ontketen, met inwoners, AfriForum-lede en plaaswerkers wat onmiddellik ingespring het om te help. Volgens Koos bly hulle oorweldig deur die ondersteuning wat hulle ontvang het.
“Wat mense vir ons gedoen het, sal ons nooit vergeet nie,” het hy gesê.



