Roané weer tuis ná MRI bevestig dat daar geen breinskade is nie
Roané het reeds op 23 Desember met fisioterapie begin om haar bene en heupe te versterk sodat sy weer kan leer loop.
ERMELO – Die dapper vierjarige Roané Griffin, wat die harte van die gemeenskap geraak het ná ‘n ernstige botsing op die Amersfoortpad, is uiteindelik terug by die huis.
Sy is op 20 Desember uit die hospitaal ontslaan, net betyds om die Kersgety saam met haar familie deur te bring.
Roané was op 14 November 2024 betrokke in ‘n kop-aan-kop botsing buite Ermelo.
LEES OOK: Ermelo-gemeenskap staan saam vir vierjarige Roané ná botsing
Sy is weens die erns van haar beserings – wat veelvuldige frakture en inwendige trauma ingesluit het – per helikopter na die pediatriese trauma-eenheid van Netcare Alberton vervoer.
Tydens haar verblyf in die hospitaal was daar groot kommer oor moontlike breinskade.
Die gemeenskap het egter in gebed saamgestaan en op die dag van haar MRI-skandering het talle mense die dag geel aangetrek as teken van hoop en ondersteuning.
Haar ma, Douwlene, het deurgaans vasgehou aan haar geloof dat haar dogtertjie ten volle sou genees.
Die uitslae het later bevestig dat daar geen breinskade is nie -‘n antwoord op duisende gebede.
“Ons eer en loof die Here vir elke verbetering. Sy liefde is so baie soos die sterre in die hemel,” het sy gesê.
Hoewel sy tuis is, lê daar nog ‘n lang pad van rehabilitasie voor.
Roané het reeds op 23 Desember met fisioterapie begin om haar bene en heupe te versterk sodat sy weer kan leer loop.
Haar ma het vertel dat die fisioterapeut, Lindi du Plooy, reeds Roané se vertroue gewen het.
“Sy werk mooi saam. Sy het ‘n paar keer gehuil, maar dan gaan sy weer aan. Ek is vreeslik trots op haar.”
Die gesin kyk na ‘n loopraam om die kleuter te help om haar onafhanklikheid te herwin, aangesien haar voete se spiere nog baie styf is.
Roané sukkel tans nog met naarheid en haar spysverteringstelsel is sensitief weens die trauma aan haar lewer en maag, wat veroorsaak dat sy baie min eet.
Die familie bedank die gemeenskap vir hul volgehoue ondersteuning en vra dat almal sal aanhou bid terwyl Roané dag vir dag veg om weer haarself te word.
“Ons weet Jesus het reeds al haar ‘einas’ aan die kruis oorwin en Hy sal haar die krag gee om weer alles te kan doen,” getuig haar ma.



