Ermelo-gemeenskap staan saam vir vierjarige Roané ná botsing
Die lewenslustige vierjarige Roané is tans in die pediatriese trauma-eenheid van Netcare Alberton, waar sy behandel word vir ernstige beserings.
ERMELO – ’n Kop-aan-kop botsing op die Amersfoortpad buite Ermelo op 14 November, het ’n gesin in rou gedompel en ’n vierjarige dogtertjie in ’n kritieke toestand gelaat.
Roané Griffin, ’n dogtertjie wat lief is vir kleuterskool, haar gesin en om agter die huishondjie aan te jaag, was saam met haar sussie, Duney, hul pa en ouma oppad na Utrecht om familie oor die naweek te besoek.
Die gesin was in die gru-ongeluk betrokke toe hulle Vrydagmiddag buite Ermelo op die Amersfoortpad met ’n ander voertuig gebots het.
SIEN OOK: VIDEO – Klasmaatjies en ouers bid vir Roané en haar gesin
Roané se pa en haar ouma is op slag in die botsing dood.
Die insittendes van die ander voertuig, ’n Ford Rio, is ook beseer. Die bestuurder het haar heup gebreek, en ’n vierjarige seun wat saam met haar gery het, is vir ’n harsingskudding behandel.
Die lewenslustige vierjarige Roané is tans in die pediatriese trauma-eenheid van Netcare Alberton, waar sy behandel word vir ernstige beserings en veelvuldige frakture oor haar lyfie.
Weens die erns van haar beserings, insluitend inwendige trauma en frakture, is Roané kort na die ongeluk per helikopter na die gespesialiseerde trauma-eenheid in Alberton vervoer.

Duney is in die Ermelo Mediclinic opgeneem, en is sedertdien ontslaan.
Familie en vriende het die gemeenskap bedank vir hul liefde en ondersteuning, en laat weet dat Roané steeds relatief stabiel is, maar dat haar herstel nog ’n lang pad is.
Dokters het reeds die drein uit haar magie verwyder en is besig om te kyk hoe sy op vloeistowwe reageer deur ’n gastriese buis, met 5ml water wat geleidelik toegedien word.
Indien dit goed verloop, sal hulle binnekort met voeding deur die buis begin.
’n Ortopeet is bekommerd oor die swelling op Roané se voetjie, en sodra sy heeltemal stabiel is, sal sy weer vir verdere operasies teater toe gaan.
Om Roané se ma te help met die enorme finansiële en logistieke koste wat die beproewing meebring, is ’n trustfonds vir die gesin geopen by Pas Prokureurs.
’n Bewysbrief van PAS Prokureurs bevestig dat ’n trustfonds vir Roané Griffin op 17 November geopen is om haar mediese behandeling en noodsaaklike uitgawes te help dek ná die ernstige motorongeluk.
Die besonderhede vir enige iemand wat donasies wil maak, is as volg:
Rekeningnaam: Pieter Stoffberg Inc Trust
Bank: FNB Ermelo
Rekeningtipe: Trustrekening
Tak-kode: 270344
Rekeningnommer: 62092150326
Verwysing: ROA7/1
Alle donasies word in ’n geregistreerde trustrekening gehou, word deursigtig bestuur deur PAS Prokureurs en sal uitsluitlik vir Roané se mediese behandeling en verwante uitgawes gebruik word.
Roané, wat veelvuldige frakture en ernstige interne beserings opgedoen het, word in ’n gespesialiseerde pediatriese trauma-eenheid behandel.
Die fonds word kosteloos deur die firma bestuur en alle skenkings word uitsluitlik vir haar sorg en herstel aangewend. Die publiek kan bydraes tot die trust maak om die gesin, veral haar ma, in hierdie moeilike tyd te ondersteun.



