Local news

Juffrou Gerda groet klaskamer 29 ná 33 jaar by EHS

Om die deur van klaskamer 29 vir die laaste keer toe te trek, was een van die moeilikste take wat sy in haar loopbaan van 33 jaar by die skool moes doen.

ERMELO – Toe die skoolklok verlede jaar op die laaste dag van kwartaal vier gelui het, was dit nie net die einde van nog ‘n skooljaar nie, maar ook die afsluiting van ‘n hoofstuk wat oor drie dekades strek.

Juffrou Gerda van Zyl, ‘n bekende en geliefde gesig in die gange van Hoërskool Ermelo, het haar klaskamerdeur ná 33 jaar finaal agter haar toegetrek.

Haar storie het op die klein spoorwegdorpie Van Dyksdrift begin, nadat sy in die Witbank-hospitaal gebore is.

Sy het aan Hoërskool Generaal Hertzog gematrikuleer, maar dit was juis ‘n negatiewe ervaring in haar tienerjare wat haar lewenspad bepaal het.

“Ek was een van daardie leerders teen wie daar gediskrimineer is, veral deur een onderwyser, bloot omdat my pa ‘n treindrywer was,” het sy vertel.

Dié seer het egter in ‘n roeping verander en sy het besluit om juis in die onderwys in te gaan om ‘n verskil te maak en te verseker dat elke kind, ongeag hul agtergrond, waardevol voel.

Van Zyl het haar BA (Ed)-graad in 1979 aan die destydse RAU voltooi, met Afrikaans-Nederlands en Bybelkunde as hoofvakke.

Op die jong ouderdom van 21 het sy haar skoene as ‘n groentjie-onderwyseres by Hoërskool Belfast volgestaan, voordat sy haar in 1992 by Hoërskool Ermelo bevind het.

By die Erries het sy onmiddellik tuis gevoel.

“Ek was van die begin af beïndruk deur die professionaliteit, die ryk tradisies en die opregte omgee van die skool,” onthou sy.

Vir meer as drie dekades het sy leerders se liefde vir Afrikaans gekweek en ook Bybelkunde aangebied toe dit nog ‘n keusevak was.

Oor die jare het sy onder vier verskillende skoolhoofde gedien en was sy instrumenteel in die skool se kultuurlewe.

As kultuurhoof het sy talle funksies gereël, terwyl die groentjieskonserte, valentynsballe en opedae vir haar van die hoogtepunte was.

“Dit was vir my heerlik as kinders hul harte in ‘n opstel uitstort en ek hulle kon help met probleemoplossings. Die netbalspanne wat ek afgerig het, het my lewe volgemaak.”

Sy koester spesiale herinneringe aan netbalkampe saam met kollegas soos Erna Schoeman, Lynelle Grobler en Henriëtte Nel.

Sy was sedert 2000 die dryfkrag agter Spoiings, die skool se kreatiewe publikasie wat oorspronklik in 1998 deur Daleen Herbst, onder leiding van Vera Alberts
begin is.

“Ek is self lief vir skryf en dit was vir my ‘n voorreg om leerders te bemoedig om skryfwerk ook as terapie te ervaar. Ek is bly ek kon ‘n verskil maak, maar so is ek ook verryk op spesiale maniere.
“Die Erries het goeie maniere en ‘n ingeboude trots. Ek is so dankbaar dat ek vir soveel jare deel kon wees van dié gemeenskap, wat my met hul liefde omvou het.”

Alhoewel sy die lewendige personeelkamer en die daaglikse interaksie met die leerders gaan mis, sien sy uit na die rustigheid van die aftrede.

Sy verruil die skoolklok vir kwaliteit-tyd saam met haar kinders en kleinkinders.

Om die deur van klaskamer 29 vir die laaste keer agter haar toe te trek, was een van die moeilikste take wat sy in haar loopbaan van 33 jaar by die skool moes doen, tog stap sy die toekoms tegemoet met ‘n hart wat oorloop van dankbaarheid en ‘n voltooide sirkel.

Mag al die opvoeders genade van ons Hemelse Vader ontvang.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Highvelder News in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button