The Flying Pub: Marius en Belinda nooi Ermeloërs saam op hul nuwe vlug
Ná ernstige siekte, amputasies en groot verlies begin twee Ermelo-inwoners ’n nuwe hoofstuk met hoop en vasberadenheid.
ERMELO – Daar is mense wat, wanneer die lewe hulle hard genoeg tref, besluit om in sak en as te gaan sit. Dan is daar Marius Swart en Belinda Els.
Albei het liggaamsdele verloor. Albei het deur ernstige siekte, pyn en verlies gegaan.
Maar wanneer Marius oor hul nuwe hoofstuk praat, is dit nie die verlies wat ‘n mens eerste hoor nie. Dit is hoop.
Marius en Belinda het onlangs die nuwe eienaars van The Flying Pub by Ermelo Vliegveld geword – ’n plek wat hulle hoop om veel meer as net ’n kroeg te maak.
Vir hulle moet dit ‘n plek wees waar vreemdelinge vriende word, en vriende familie.

’n Nuwe hoofstuk ná jare van pyn
Marius se pad na amputasie was lank en uitputtend. Hy het bullous pemphigoid opgedoen en vir ongeveer 14 maande met probleme aan sy been en intense pyn geleef.
Uiteindelik moes hy 26 dae in die hospitaal deurbring, waarvan 23 in intensiewe sorg was. Hy het nie gedink hy sou daar uitstap nie.
Saam met diabetes het die komplikasies uiteindelik tot die amputasie van sy regterbeen gelei. Hy het ook tone aan sy linkervoet verloor.
Vir iemand wat dit van buite beskou, klink dit soos ‘n verwoestende einde. Maar Marius beskryf dit anders.
Vir hom was die amputasie op ‘n vreemde manier ’n verligting. Hy het gevoel asof die probleem uiteindelik “afgesny” is – en dat hy nou kon begin genees.
Dit is ‘n ingesteldheid wat baie van sy verhaal kenmerk. ”Kan nie” is eenvoudig nie deel van sy woordeskat nie.
Ook Belinda moes ’n pad van verlies stap
Belinda se verhaal is ewe diep.
Sy het kanker gehad en moes ’n dubbele mastektomie ondergaan. Spiere is agter haar arm verwyder om vir die rekonstruksie van haar bors gebruik te word.
Met verloop van tyd het ernstige probleme in haar arm ontstaan. Dit het begin lam raak, totdat sy uiteindelik alle beweging en gevoel daarin verloor het.
Uiteindelik moes haar arm ook geamputeer word. Tóg staan die twee lewensmaats langs mekaar en pak saam die volgende hoofstuk aan.
Die twee het mekaar op Facebook leer ken. Teen daardie tyd het elkeen reeds hul eie deel van die lewe se storms deurstaan.
Marius het jare lank in die polisie se voertuigdiefstaleenheid gewerk. Selfs ’n ernstige ongeluk, wat permanente skade aan sy arm en hand gelaat het, kon hom nie daarvan weerhou om aan te hou nie.
WAARSKUWING: Die volgende foto toon ’n ernstige besering en kan sensitiewe lesers ontstel.

Belinda, daarenteen, het kleuters en laerskoolkinders vervoer asook tuisonderrig aangebied voordat sy haar man aan die dood afgestaan het.
Vandag is hulle saam aan stuur van The Flying Pub.
Meer as net ’n kroeg
Marius wil van The Flying Pub ‘n sukses maak, en sy visie strek veel verder as goeie kos en ‘n koue drankie.
Hy wil hê mense moet gemaklik wees om hul kinders saam te bring.
Die buitespeelplek gaan ’n gedaanteverwisseling ondergaan, met springkastele wat volgens Marius deel van die toekomsplanne is. Hy wil ook die speelgebied verder omhein.
Die doel is eenvoudig: om ’n plek te skep waar families, vriende en die gemeenskap welkom voel.
Marius praat openlik oor sy geloof en beskryf homself as ‘n wedergebore kind van die Here.
Hy glo dat God soms dinge op ‘n mens se pad plaas wat vir ander vreemd mag lyk, maar uiteindelik ‘n doel het – ook The Flying Pub.
Iemand mag dalk vra hoe ’n gelowige ’n kroeg kan bestuur. Marius se antwoord is eenvoudig: “Daar is al menige mense wat mismoedig deur hierdie deure gestap het, en waar hulle lewens onomwonde verander het deur bloot met iemand te gesels.”
Vir hom gaan dit dus nie net oor wat in ’n glas geskink word nie. Dit gaan oor die mens aan die ander kant van die toonbank.
The Flying Pub is ’n plek waar mense mekaar moet kan vind. ‘n Plek waar mense kan asemhaal.
Meer as net ’n drankie
Die paartjie se visie is om The Flying Pub ’n plek te maak vir meer as net ’n drankie.
Van gesinsgeleenthede en werkskuiers tot spesiale funksies – hulle wil ‘n ruimte skep waar mense bymekaar kan kom.
Marius vertel met genoegdoening van een wintersoggend toe die kaggel by The Flying Pub gebrand het en iemand vir hom gesê het dat dit voel asof hy by sy vriend se huis kuier. Dit is die gevoel wat hy hoop elke persoon sal ervaar wanneer hy of sy by The Flying Pub instap.
En dan is daar iets wat geen ander kuierplek in Ermelo kan bied nie. Vliegtuie.

Van The Flying Pub af kan besoekers vliegtuie sien land en opstyg – ’n unieke ervaring in Ermelo.
Die pub bied tans ontbyt en heerlike pub lunches, en is ideaal vir iemand wat ’n bietjie uit die oog wil wees, wil ontspan, iets wil drink en rugby op die grootskerm wil kyk.
Vir Marius en Belinda is The Flying Pub die antwoord vir dié wat op soek is na ’n plek waar hulle kan ontspan en die tyd saam met vriende of familie kan geniet.
Terwyl hy oor The Flying Pub se toekoms praat, is dit duidelik dat hy nie net ’n besigheid wil bedryf nie. Hy wil ‘n tuiste skep. ’n Plek waar iemand wat swaar dra, vir ’n rukkie kan vergeet.
Waar ‘n vreemdeling dalk langs iemand inskuif en as ’n vriend by die deur uitstap. En waar vriende mettertyd soos familie kan voel.
Want Marius en Belinda weet iets wat die lewe hulle op die moeilikste moontlike manier geleer het: Soms kan ’n mens nie kies wat met jou gebeur nie.
Maar jy kan kies wat jy daarmee doen.
’n Nuwe begin te midde van finansiële druk
Die afgelope jare se mediese uitgawes, ‘n prostese, ander onverwagse kostes en die finansiële druk wat met hul omstandighede gepaardgegaan het, het ’n swaar las op die twee pensioenarisse geplaas.
Belinda staan ook voor die moontlikheid om haar persoonlike besittings te verloor indien sy nie haar uitstaande stoorgeld kan dek nie.
Marius en Belinda het daarom ’n beroep op die gemeenskap gedoen om hulle te ondersteun terwyl hulle probeer om hierdie volgende hoofstuk van hul lewe te begin.
’n Besoek aan The Flying Pub. ’n Ontbyt saam met ’n vriend. ’n Pub lunch. ’n Familie-uitstappie. ’n Venuebespreking. Of bloot om hul storie met iemand anders te deel.
Vir Marius en Belinda beteken elke persoon wat deur die deure stap, meer as net ’n klant. Dit is iemand wat help om hul droom lewendig te hou.
En wanneer jy daar sit met ’n warm bord kos voor jou, die kaggel wat brand en ’n vliegtuig wat bo jou opstyg, onthou dat jy nie bloot by ’n nuwe onderneming in Ermelo gaan kuier nie.
Jy help twee mense wat geweier het om deur hul omstandighede gedefinieer te word om weer op hul eie voete te staan.



