Jongman rek na keteltjie, beland in ‘pan’
’n Uitgebreide herwinningsoperasie was nodig nadat ’n voertuig in Ons Pan naby Ermelo gesink het. Die bestuurder is betyds uit die voertuig gered.
’n Jong man het minute lank vir sy lewe geveg nadat sy voertuig in Ons Pan tussen Ermelo en Amersfoort beland en begin sink het.
Motor beland in dam – bestuurder vasgekeer
Volgens die eienaar van die gewilde hengel- en kampeerbestemming, Sarita Bosman, moes ’n uitgebreide reddings- en herwinningsoperasie geloods word nadat die voertuig in diep water verdwyn het.
Professionele duikers en reddingspanne is ontbied nadat aanvanklike soekpogings deur ander duikers nie suksesvol was nie.
Die 24-jarige bestuurder het bevestig dat hy alleen in die voertuig was en die enjin aangeskakel het om elektroniese toestelle te laai.

Hy het glo agtertoe gereik na ’n ketel op die agtersitplek toe sy klere aan die rathefboom vasgehaak en die voertuig in rat getrek het, waarna dit begin beweeg en in die dam beland het.
Water het vinnig die voertuig begin vul en hy kon nie die deure of vensters oopkry nie.
Vriende probeer desperaat om venster te breek
Twee vriende op die kampterrein het raakgesien wat aan die gebeur was en die dam ingeswem om hom te help.
Hulle het die dam ingeswem en desperaat probeer om die voertuig se agterruit met ’n klip te breek, maar sonder sukses.
Een van die vriende het toe teruggeswem kamp toe om ’n glasbottel te gaan haal, waarna hulle uiteindelik die ruit kon breek en die bestuurder uit die sinkende voertuig trek.
Bestuurder hospitaal toe – voertuig herwin
Hy is later by ’n plaaslike hospitaal opgeneem vir observasie weens die risiko van sekondêre verdrinking, asook vir behandeling van snye wat hy tydens die redding opgedoen het.
Die voertuig is uiteindelik deur die Delta 1 Rescue-duikspan, N17 Emergency Response en Ermelo Towing Services uit die dam herwin.
Reddingspanne waarsku dat voorvalle soos dié binne sekondes kan gebeur en doen ’n beroep op motoriste om ekstra versigtig te wees wanneer voertuie naby water geparkeer word.
Meer besonderhede oor die dramatiese reddingspoging, die herwinningsoperasie in die gedrukte uitgawe van die Hoëvelder.



