Ligbron skop wintersport af teen HTS Middelburg
Die openingswedstryde was ’n goeie vuurdoop vir die Liggies en daar word met verwagting uitgesien na die seisoen wat voorlê.
Ligbron Akademie vir Tegnologie het op 28 Februarie sy wintersportseisoen met vriendskaplike rugby- en netbalwedstryde teen Hoër Tegniese Skool Middelburg afgeskop.
Op die rugbyveld het Ligbron se o. 14A- en o. 15A-spanne die dag sterk begin.
Die o. 14A-span het met 18-12 geseëvier, terwyl die o.15A-span ’n oorwinning van 24-20 behaal het.
Die ander rugbyspanne van Ligbron kon nie daarin slaag om die spanne van Hoër Tegniese Skool Middelburg te klop nie, maar die tellings het getoon dat die wedstryde mededingend was.
Die eerste span het met 26-29 verloor, terwyl die tweede span met 12-14 die knie moes buig.
Op die netbalbane het die eerstespanne van Ligbron en Hoër Tegniese Skool Middelburg ’n naelbytstryd beleef.
Die wedstryd is in die laaste minute beslis, met Ligbron wat met 19-20 verloor het.
Die openingswedstryde was ’n goeie vuurdoop vir die Liggies en daar word met verwagting uitgesien na die seisoen wat voorlê.



