Oud-Ermeloër herstel ná vele operasies
’n Jong vrou van Ermelo veg terug ná ’n breingewas en komplikasies. Haar herstel vorder, maar finansiële druk bly ’n uitdaging vir haar.
ERMELO – Janneke Müller (26), oorspronklik van die dorp, herstel ná ernstige operasies en komplikasies sedert November 2025, terwyl haar familie en gemeenskap saamstaan om haar deur ‘n uitdagende tyd te dra.
Die 26-jarige, gebore en getoë in Ermelo, is in November 2025 met ‘n paraganglioom tussen haar skedel en brein gediagnoseer.
Die gewas het ernstige skade aan haar senuwees veroorsaak.
Dit het gelei tot verlamming aan die een kant van haar gesig, asook skade aan haar middeloor, arm, oog en stembande.
Haar ma, Marisa Scheepers, het vertel dat die aanvanklike diagnose ‘n groot skok was, maar die feit dat die gewas nie kwaadaardig was nie en sy gehelp kon word, het dit makliker gemaak.
“Ons geloof in die Here het ons ook al die pad gedra,” het maar ma vertel.
Sedertdien het Müller verskeie operasies ondergaan. Op 2 Februarie is die gewas verwyder en senuwees herstel.
‘n Tweede operasie het kort daarna gevolg om haar oog en stembande te behandel. Maar haar pad na herstel was nie sonder terugslae nie.
‘n Opbou van druk op haar wonde het haar weer in die hospitaal laat beland, waar nog ‘n prosedure gedoen is.
Die grootste skok het egter op 3 Maart gekom, toe ‘n bloedklont deur haar longe beweeg het. Dit het tot nog ‘n noodoperasie gelei.
Vandag is sy op bloedverdunners en onder streng mediese toesig. Ten spyte van alles, beskryf haar familie haar as ‘n vegter wat nie maklik moed opgee nie.

Elke dag bring klein oorwinnings en met fisioterapie en spraakterapie begin haar liggaam stadig herstel, haar stem word sterker en haar gesig kry weer gevoel.
Müller, wat haar skoolloopbaan by Laerskool JJ van der Merwe en Ligbron Akademie vir Tegnologie voltooi het, het nog altyd ‘n passie vir sport en mense gehad.
Vandag is sy ‘n sportafrigter by Jacaranda International School in Centurion, waar sy saam met haar man, Geo, woon.
Die pad vorentoe behels verskeie rehabilitasie, insluitend fisioterapie, spraakterapie en gereelde mediese opvolg.
Alhoewel sy ‘n mediese fonds het, dek dit nie alle uitgawes nie en is sy onlangs is vir ses maande afgeboek en sal vir vier maande geen inkomste hê nie.
Die familie sê die ondersteuning van die Ermelo-gemeenskap was beduidend.
“Jy sal nooit weet hoeveel Ermelo se gemeenskap ons in hierdie tyd al bygestaan het nie. Nie net deur BackaBuddy nie, maar ook elke gebed, boodskap en telefoonoproep. Elke besoek in die hospitaal of by die huis. Niemand sal ooit weet hoeveel dit beteken nie,” het haar ma afgesluit.
Die gesin het ‘n fondsinsameling vir Janneke geopen om haar finansieel by te staan. Enige iemand wat ‘n bydrae wil maak, kan dié skakel volg: www.backabuddy.co.za/campaign/janneke-muller.




