Ermelo English Primary School kondig nuwe onderhoof aan
Dit is vir haar die belangrikste om ’n passie te hê om skool te hou en sy voel dat wanneer jy jou passie uitleef, dit nie soos werk voel nie
ERMELO – Theunet Stoop is onlangs as die nuwe onderhoof van Ermelo English Primary School (EEPS) aangestel.
Dié aanstelling, het Stoop vertel, beskou sy as ’n groot verantwoordelikheid wat sy nie ligtelik opneem nie.
Stoop het in 1993 aan Hoërskool Ermelo matrikuleer, waarna sy vanaf 1994 tot 1997 onderwys aan die Onderwyskollege Pretoria studeer het.
In 2000 het sy by EEPS aangesluit en is al 24 jaar en sewe maande ’n onderwyser by die skool.
As kind was onderwys altyd iets wat sy wou aandurf en het dit baie geniet om skool-skool te speel.
“My tannie is ook ’n onderwyser. Dit was altyd vir my lekker om na haar skoolhoustories te luister en te besef watter inpak ’n mens as onderwyser op kinders kan hê,” het Stoop gesê.
Sy gee tans wiskundeklasse aan gr. 4-leerders, maar het ook in die verlede al Engels, Afrikaans, sosiale wetenskap, lewenswetenskap en natuurwetenskap gegee.
“Ek is baie trots op my werk en dis vir my heerlik om skool te hou en alhoewel die onderwys baie uitdagings het, sal ek altyd daarna streef om my passie te behou.”
Sy het vertel dat om in die onderwys te werk, moet ’n besef watter groot verantwoordelikheid dit is om met kinders te werk.
Sy het bygevoeg dat hoe jy lyk, praat en die kinders laat voel ’n massiewe impak op hulle lewens kan hê.
Vir haar is dit egter die belangrikste om ’n daadwerklike passie te hê om skool te hou en sy voel dat wanneer jy jou passie uitleef, dit nie soos werk voel nie.
In haar vryetyd geniet sy dit om naaldwerk te doen, te borduur en te verf, en sy lees ook graag.
“Ek wil graag hê ons skool moet ’n plek wees waar die kinders veilig voel en waar hulle elkeen as belangrik geag word.
“Só sal hulle gemotiveerd bly om aan aktiwiteite deel te neem sodat hulle hul volle potensiaal kan bereik en hulle selfbeeld en selfvertroue versterk.”
Haar visie is dat die skool sal vashou aan sy leuse: ‘Grow in strength’.