Nickey Jansen van Rensburg aangewys as hoofafrigter van SA o.14-Bokkiespan
Suid-Afrika se o.14-rugbyspan word in Oktober deur Ligbron se Nickey Jansen van Rensburg gelei tydens hul toer in Namibië.
Een van Ligbron Akademie se rugbyafrigters, Nickey Jansen van Rensburg, is onlangs aangewys as hoofafrigter van die Suid-Afrikaanse o. 14-A Bokkiespan.
Jansen van Rensburg het tydens die vakansie Mpumalanga se o. 14-A span afgerig by die nasionale Bokkieweek.
Die span het met hul afgeronde spel beïndruk en daarin geslaag om deur te dring na die eindronde, waar hulle met ’n telling van 8 – 10 vasgeval het.
Sy tegniese insig en doeltreffende afrigting het die aandag van die nasionale keurders getrek.

As gevolg hiervan is hy nou aangestel as die afrigter van die Suid-Afrikaanse o.14-span wat van 5 tot 11 Oktober na Namibië gaan toer en verskeie wedstryde daar sal speel.
Jansen van Rensburg is self ’n oud-Liggie en het verlede jaar as studente-onderwyser klaargemaak en graad gevang.
Hy beskryf mede onderwysser, Pierre van Wyngaardt as sy mentor in rugby, en roem sy onblusbare passie en uitsonderlike kennis van die spel.
Gerhard Brand, Ligbron skoolhoof het gesê: “Ligbron is trots op dié prestasie en wens Jansen van Rensburg alle sterkte toe op die nasionale verhoog.”



