Ligbron se graad 8-groentjies word amptelik Liggies
Ligbron se graad 8-leerders is amptelik Liggies na afloop van die skool se jaarlikse baadjieseremonie na ‘n suksesvolle groentjieskonsert.
Ligbron Akademie vir Tegnologie se jaarlikse baadjieseremonie van hul gr. 8-leerders is soos oudergewoonte suksesvol by die skool aangebied.
Die seremonie is voorafgegaan deur die tradisionele groentjieskonsert.
Die gr. 8s het die toeskouers vermaak met tonele waarin hulle animasiefilms gekoppel het aan verskillende aspekte van die skool.

Hierdie jaar se wenners was die gr. 8I-klas van Lizmarie van Eeden, wat met die louere weggestap het.
Onder die leiding van hul leiers Eljoné van Niekerk, Dewald Nel, Banele Mthombo en Na’eela Bhagalia het hulle The Greatest Showman met groot sukses na die Verbruikerstudies sentrum gebring.
Kort op hul hake was gr. 8N van Nickey Janse van Rensburg en in die derde plek was gr. 8O van Colleen Bellows.
Die saal was stampvol met ouers en ander familie, vir wie die hoogtepunt van die aand die baadjieseremonie was.

Hierdie seremonie is die hoogtepunt van elke gr. 8 se skoolloopbaan.
Na weke van ‘n strawwe inlywingsprogram word hulle deur hierdie seremonie offisieel as Liggies aanvaar.
Die gr. 8s se splinternuwe skoolbaadjies word deur hul leiers vir hulle aangetrek, waarna hul kerse ook vir hulle aangesteek word.

Die seremonie simboliseer dat hulle ingelyf is as trotse Liggies wat tot die dag wat hulle die skool verlaat, hul skool op alle gebiede met trots sal verteenwoordig.
Gerhard Brand, Ligbron se skoolhoof, het gesê: “Ons verwelkom graag nog ‘n groep uitnemende gr. 8s, waarop ons baie trots is.”



