Erries praat hul plek oop tot in nasionale Top 10
Agt leerders van Erries het onlangs hul redenaarsvernuf op die nasionale verhoog getoets.
Agt leerders van Hoerskool Ermelo het onlangs hul stemme op die nasionale verhoog laat hoor toe hulle aan die nasionale rondte van die Interskole Redenaarsliga by die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) deelgeneem het.
Tydens die kompetisie het van die land se voorste skole, waaronder Affies, Waterkloof, Helpmekaar en Garsfontein meegeding.
Verskeie Erries het daarin geslaag om onder die nasionale Top 10 in hul onderskeie afdelings te eindig.
Kara McKenzie, ’n graad 10-leerder, het ’n vyfde plek in die Engelse onvoorbereide afdeling en ’n negende plek in die Afrikaanse onvoorbereide afdeling behaal.
In die graad 12 Afrikaanse onvoorbereide afdeling het Karli van Schalkwyk ’n vyfde plek behaal. Miané Swanepoel het in die graad 11 Afrikaanse voorbereide afdeling ’n agtste plek behaal, terwyl Madri van Niekerk in die graad 12 Engelse voorbereide afdeling sewende geëindig het.
Die graad 8-span – Attie Joubert, Miechke Mostert, Zené Griesel en Milan Zwarts – het ook hul staal gewys en ’n agtste plek in die Afrikaanse voorbereide spanafdeling behaal.




