EHS dring met nege spanne deur na Mpumalanga-tennisfinale
EHS se tennisspanne het goed gevaar in die Mpumalanga-liga, met nege spanne wat deurgedring het na die provinsiale finale en vyf wat as Mpumalanga-wenners uit die stryd getree het.
EHS se tennisspanne het vyf Mpumalanga-titels ingepalm nadat nege van die skool se 10 spanne die liga gewen en deurgedring het na die Mpumalanga-tenniseindstryd.
Die vierde en vyfde seunspan, asook die derde, vierde en vyfde dogterspan, het as Mpumalanga-wenners uit die stryd getree.
Die derde seunspan het tweede in Mpumalanga geëindig, terwyl die eerste en tweede seunspan en tweede dogterspan elk derde geëindig het.
In die seunsafdeling het die eerste en tweede span teen HTS Middelburg en Hoërskool Nelspruit verloor. Die derde seunspan het Hoërskool Middelburg gewen, maar teen Hoërskool Nelspruit verloor.
Die vierde en vyfde seunspan het albei daarin geslaag om Hoërskool Middelburg en Hoërskool Nelspruit te klop.
In die dogtersafdeling het die tweede span teen Hoërskool Middelburg en Hoërskool Nelspruit verloor en derde in Mpumalanga geëindig.
Die derde en vierde dogterspan het albei oorwinnings teen dié twee skole behaal en as Mpumalanga-wenners geëindig. Die vyfde dogterspan het ook as ’n Mpumalanga-wenspan uit die stryd getree.








