Hein Hein en Charles Wahlstrand sorg vir groot opwinding in die snoekerliga op Ermelo
Die twee spelers het voor die wedstryd in die eerste en derde plek gelê en die wedstryd het die wenner van die liga by Full Moon bepaal.
Die spanning het hoog geloop Donderdagaand, 20 September by Full Moon Cue Sportklub terwyl Hein Hein en Charles Wahlstrand sake op die snoekertafel uitgespook het.
Die liga het vroeg in Julie afgeskop en nege snoekerspelers het meegeding vir die top vier plekke om te kwalifiseer vir die Puma-snoekertoernooi in Oktober.
Die twee spelers het voor die wedstryd in die eerste en derde plekke gelê en die wedstryd het die wenner van die liga by Full Moon bepaal.
Elke speler het die geleentheid gekry om vier wedstryde teen sy teenstander te speel.
Charles Wahlstrand het as die wenner van die liga weggestap nadat hy Hein Heine met 3-1 geklop het.

Die eerste wedstryd het in die guns van Hein geëindig, waarna Charles die tweede wedstryd oortuigend gewen het.
In die derde wedstryd tussen die twee topspelers, is elke skoot met presisie gespeel. Charles het die wedstryd net-net gewen.
Die laaste wedstryd was vol opwinding en prag skote van albei spelers.
In die doodsnikke van die wedstryd met slegs die swart bal op die tafel, het Charles geluk aan sy kant gehad en die swart bal gepot wat die telling op 3-1 in sy guns gelaat het.
Die top vier snoekerspelers van Ermelo se snoekerliga is Charles Wahlstrand in die eerste plek met 24 punte, Ashley Bruce in die tweede plek met 19 punte, Hein Heine kort op sy hakke met 18 punte en Leon Pieterse met 14 punte.
Die laaste wedstryde van die liga word Donderdag, 27 September by Full Moon Cue Sportklub gespeel.




