Ermelo wen swartballiga
Ermelo se span het met die swartballiga-beker in die hand as die wenners uit die stryd getree.
Ermelo se span het met die swartballiga-beker in die hand as die wenners uit die eindstryd getree.
Dié eindstryd het Saterdag, 6 Oktober by Panda’s klub op Secunda plaasgevind en twee van Ermelo se spanne het onder die top 16 spanne geëindig, sowel as die uitspele bygewoon.
Die spanne bestaan uit drie spelers wat teen die ander span se drie spelers speel tot die eerste span vyf wedstryde gewen het.
Full Moon 2 se span het in die eerste ronde teen Asian Stars van Nelspruit te staan gekom en moes die knie buig en het hulle wedstryd 5 – 1 verloor.
Full Moon 1 het al hulle wedstryde gewen en in die eindstryd teen Panda’s B5 gewedywer.
Die wedstryd het gesorg vir groot opgewondenheid by al die toeskouers, met Mandi Mente van Panda’s wat in die eerste wedstryd teen Hein Heine van Full Moon 1 gebreek het en die tafel skoongemaak het.
Ermelo se span het teruggekom en die telling 4 – 1 in Ermelo se guns geswaai.
Na twee spannende wedstryde, het Panda’s die telling 4 – 3 gemaak.
Hein Heine van Ermelo het in die doodsnikke van die agtste wedstryd, nadat Jacobus le Roux ’n fout begaan het en een van sy kleurballe gemis het, sy kleurballe noukeurig gepot en die witbal inlyn gelaat om die swartbal in die middelsak te pot.
Met die skare op hulle tone en asem opgehou, het hy gesak en die swartbal in die middelsak gepot.
Hein Heine is ook as die topspeler van die liga aangewys.
“Ons het baie goed saamgewerk en mekaar gedra as een dalk ’n afdag beleef het.
“Dit was ’n emosionele oomblik vir almal toe ons wen.
“Om die beker by die Panda’s se tuiste te wen, het baie karakter van ons getoon,” het die span aan die Hoëvelder gesê.