Elsa en Liya wen medaljes én Ermelo-gemeenskap se harte
Die wedloop tussen die twee dogters het die toeskouers omtrent op die punte van hulle stoele gehad.

Laerskool JJ van der Merwe se interhuisbyeenkoms op 18 Januarie het vanjaar talle spesiale oomblikke opgelewer, maar een wat werklik uitgestaan het was die epiese wedloop tussen die gr. 2-atlete, Liya Rosslee en Elsa Winckler.

Die wedloop het die toeskouers op die punte van hulle stoele gehad.
Elsa het ’n emosionele tweede plek behaal en Liya het haar alles gegee, tot op die punt van naarheid.

Die vasberadenheid en deursettingsvermoë van beide dogters was merkwaardig.
’n Foto wat deur Hoëvelder se redakteur, Wayne van der Walt, op Hoëvelder en op sy Facebook-blad gedeel is, waarop Elsa tydens ’n emosionele oomblik vasgevang is, het vinnig op sosiale media begin sirkuleer.

Haar ma, Marlette, ’n plaaslike fisioterapeut, het aan die koerant gesê: “Ek het te ver gesit en was glad nie bewus van al die emosie wat op die baan afgespeel het nie. Toe ek die foto’s kry, was dit vir my baie spesiaal!”
Marlette het aan Hoëvelder nog ’n foto verskaf van ’n vrolike Elsa en Liya, toe hulle van die rostrum afspring ná hulle hul onderskeie medaljes ontvang het.

Liya en Elsa het nie net die afgelope naweek medaljes gewen nie, maar ook die gemeenskap se harte.