Ermelo se Marlioné Erasmus hardloop groot droom tegemoet
Tydens die interhoër is sy as beste naelloopatleet en senior victix ludorum aangewys.
’n Groot geleentheid het Marlioné Erasmus (16) van Hoërskool Ermelo te beurt geval nadat sy op 15 Februarie tydens die Interhoër in Middelburg gekwalifiseer het om aan die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskap in Kaapstad deel te neem.
Marlioné het goud in die 100 m en 200 m losgehardloop en silwer in die 400 m en aflos verower.
Sy was in ekstase toe sy later die dag oor die luidspreker hoor dat sy as die beste senior naelloopatleet van die dag aangewys is.

Sy vertel dat sy nog besig was om dit saam met haar spanmaats en afrigters op die veld te vier, toe die volgende aankondiging deurkom dat sy ook as die senior victrix ludorum aangewys is.
Haar ma, Cicile, vertel: “Ek kan nie in woorde beskryf hoe haar gesiggie van trots en opgewondenheid gestraal het nie. Sy gee al haar eer aan die Here, wat vir haar die talente gegee het, en sy werk hard om dit verder te ontwikkel.”

Volgens Cicile het Marlioné ’n baie noue geloofsband met haar Skepper en wanneer sy klaar geoefen en haar huiswerk afgehandel het, trek sy haar Bybel nader om Bybelstudie te doen.
“Sy oefen altyd!” sê Cicile. “Of dit nou by die skool vir atletiek of hokkie is, of selfs by die huis in haar vrye tyd – sy is altyd bedrywig.
“Daar vlieg gereeld hokkieballe deur die lug in ons erf… en ja, ek moes al ’n paar bure se vensters vervang het!”
Marlioné sê haar mikpunt is om onder die top vyf by die SA’s te eindig.
“Dit sal vir my die wêreld beteken om te kan gaan deelneem,” sê Marlioné. “Dit is ’n groot droom om in Kaapstad by die Groenpunt Atletiekstadion te kan hardloop.”
Hoewel sy nou daardie droom verwesenlik het om daaraan deel te kan gaan neem, kom dit met ’n stewige prys en sal die gesin finansiële ondersteuning benodig om hierdie droom vir Marlioné ’n werklikheid te kan maak.
Lees die volledige berig in Hoëvelder.



