Ligbron wys hul staal by Dup van Rensburg-atletiekbyeenkoms in Ermelo
Ligbron Akademie vir Tegnologie het die Dup van Rensburg-atletiekbyeenkoms in Ermelo met gemak gewen en verskeie individuele toekennings ingepalm.
ERMELO – Ligbron Akademie vir Tegnologie het ‘n oortuigende vertoning gelewer tydens die onlangse Dup van Rensburg-atletiekbyeenkoms en het die kompetisie met gemak gewen.
Tydens hierdie jaarlikse uitnodigingsbyeenkoms meet die Liggies kragte met Sutherland High School, Curro Nelspruit, Hoërskool Bergvlam en Pongola Akademie Gekombineerde Skool.
Ligbron het die byeenkoms afgesluit met 1 651 punte, gevolg deur Sutherland (1 349 punte) en Bergvlam (844,5 punte), terwyl Curro Nelspruit (496 punte) en Pongola Akademie met 200,5 punte die byeenkoms geëindig het.

Benewens die indrukwekkende spanprestasie, het verskeie Ligbron-atlete individueel uitgestaan. De Villiers Dippenaar is aangewys as junior victor ludorum sowel as beste junior veldatleet, terwyl Darius Boshoff die toekenning vir senior victor ludorum en beste senior veldatleet ontvang het.
Tussen die dogters het Marjolé Scheepers as junior victrix ludorum en beste junior baanatleet uitgeblink, terwyl Milla Dippenaar as beste junior veldatleet bekroon is.



