Terloops
Toe ek ’n kind was, het ons ’n liedjie gesing waarvan die woorde verduidelik het dat die rooi in ’n verkeerslig aandui dat jy moet stop, groen sê jy mag ry en oranje sê jy moet oppas wat jy doen. Duidelik is dié liedjie nie van geslag tot geslag oorgedra nie en het sommige van …
Toe ek ’n kind was, het ons ’n
liedjie gesing waarvan die woorde verduidelik het dat die rooi in ’n verkeerslig aandui dat jy moet stop, groen sê jy mag ry en oranje sê jy moet oppas wat jy doen.
Duidelik is dié liedjie nie van geslag tot geslag oorgedra nie en het sommige van die ouer garde al die woorde vergeet.
’n Verkeerslig, vier-rigtingstop en verkeersirkel het net eenvoudig nie vir almal dieselfde betekenis nie.
Baie mense was opgewonde toe die vier-rigtingstop by die kruising van Bührmann- en Kerkstraat opgerig is.
Dalk sal dit die spoed waarteen sommige bestuurders in die hoofstraat afjaag, breek en terselfdertyd mense die geleentheid gee om Kerkstraat makliker te kruis, het sommige mense gedink.
Toe nie.
Ek woon nie ver van die kruising af nie en gereeld weerklink die geskree van bande soos iemand wat die stopteken verontagsaam het of die onskuldige persoon wat wel gery het, soos hy mag, remme aanslaan om ’n ongeluk te vermy.
Word die beginsel van ’n vier-rigtingstop nie aan mense verduidelik wanneer hulle voorberei word om leerling- of bestuurderslisensies te bekom nie?
Ek het dit al male sonder tal beleef dat ’n oranje verkeerslig vir sommige mense die boodskap van “ry so vinnig as jy kan sodat jy nie hoef te stop as die lig na rooi oorslaan nie” beteken en dat om liewer betyds te probeer stop nie eers in hul gedagtes is nie.
Keer op keer het ek al by stoptekens en verkeersligte gesien hoe motors mekaar rakelings mis.
Ander kere was sommige bestuurders, gereeld die onskuldige partye, nie so gelukkig nie en is mense beseer en moes sommiges met hul lewens boet.
Ek probeer liewer die verkeersirkel in Naudéstraat heeltemal vermy.
Dit is reeds ’n baie besige deel van die dorp en dit lyk asof ’n verkeersirkel vir baie bestuurders ’n rare verskynsel is.
Van toegee en ry wanneer dit jou beurt is, is daar vir baie bestuurders geen sprake nie.
Dalk het dit tyd geword dat daar drasties opgetree word teen mense wat nie verkeersreëls gehoorsaam nie.
Dit is vir niemand ’n plesier om selfs as jy net kafee of supermark toe ry, te
wonder of jy weer ongeskonde
by jou huis gaan uitkom nie.