Onthou Herfsland se kermis Saterdag
Louw sê dat stalletjies talle kunsitems beloof, soos handgemaakte items en klere
Herfsland se jaarlikse kermis vind op 31 Augustus van 8vm tot 1nm plaas.
Bestuurder van die oord Johannie Louw het aan Express vertel: “Dit is die enigste groot fondswerwingsprojek wat Herfsland gedurende die jaar het en die fondse word aangewend om minderbevoorregte verswakte bejaardes in Herfsland te versorg. Ons wil graag soveel as moontlik mense by die kermis betrek.”
Toegang is gratis waar stalletjies, heerlike kos en ’n ontbyt teen R40 aangebied word. Die ontbyt word in drie sessies, 8-9vm, 9-10vm en 10-11vm bedien en sluit in vrugtesap, jogurt, eier, spek, chipolata-wors, tamatie, sampioene, ’n verskeidenheid brood, koffie en tee.
Louw sê dat stalletjies talle kunsitems beloof, soos handgemaakte items en klere.
“Die kosstalletjies, soos potjiekos, roosterkoek en broodrolletjies, kerrie en rys, tuisgebak, pannekoek, jafels en die ontbyt, word deur gemeentes, Feedem en ander vrywilligers hanteer en die kos is van hoogstaande gehalte.”
Con Amore het ook vanjaar ’n stalletjie by Herfsland se kermis en gaan gevulde tacos verkoop.
Kinders kan uitsien na ’n tombolatafel, springkasteel en ’n handwerkwinkel vir hul vermaak.
“Ons het groot waardering vir almal wat betrokke is by die kermis en wat by die stalletjies werk en almal wat ons ondersteun,” sê Louw.
Also follow us on:





