Local newsNews

Danielle dra reeds ‘n kroon

Krugersdorp se eie Mev Suid-Afrika finalis, Danielle Steynvaardt sal binnekort ook op ons kleinskerms verskyn.

Die plaaslike sepiester en Mevrou Suid-Afrika finalis, Danielle Steynvaardt het onlangs saam met NUUS joernalis Marizka Coetzer gekuier en gesels van die liefde in haar lewe en die leed wat sy ervaar het na haar onlangse sukses.

Danielle spog nie net met haar nuwe rol in die KykNET sepie Binneland nie, maar ook as een van die 22 finaliste in vanjaar se Mev SA 2013 kompetisie.

Danielle is gebore in Krugersdorp en het nog altyd ‘n liefde vir drama gehad. Sy het haar droom gevolg en drama by die Universiteit van Pretoria gaan swot nadat sy in 2008 by Hoërskool Noordheuwel gematrikuleer het.

Op die dag toe sy graad gevang het, het Danielle alreeds haar eerste rol in die SABC 2 drama Muvango los geslaan.

“Ek ‘n oproep ontvang om te sê ek het die rol gekry. Ek sal daardie dag nooit vergeet nie,” sê Danielle.

Intussen het sy ook in ‘n Beacon advertensie verskyn en haar eie drama akademie, Ta-Da in Rant-en-Dal geopen.

Sy sal ook ‘n verskyning later vanjaar saam met Gys de Villiers maak in ‘n opkomende Afrikaanse film.

Haar man is haar grootse ondersteuner en sy glo met hom en die Here aan haar kant kan niks in haar pad staan nie.

“My man is my grootste inspirasie, my motivering en my rots en ek voel dat ek dit nooit sou kon doen sonder hom in my lewe nie.”

‘n Goeie vriendin van Danielle het haar vir die Mev SA kompetisie ingeskryf omdat Danielle nie veel belangstelling in die kompetisie getoon het nie. “Ek het eerlikwaar gedink dat dis net ‘n geldmaak storie is, totdat ek onlangs as een van die top 22 finaliste aangekondig is.”

Haar missie vir Mev SA is om ‘n inspirasie vir vroue regoor die land te wees en hul te motiveer om die leiding van hul eie lewens te neem.

Alhoewel Danielle baie opgewonde is vir die gala aand, vrees sy ook dat haar ouderdom (23) dalk tussen haar en die kroon mag staan.

“Jou ouderdom bepaal nie hoe oud of ervare jy is nie maar dit is al die situasies waardeer jy al was en die diepe waters wat jy al geswem het.”

Met of sonder die Mev SA titel glo sy steeds dat sy hoër hoogtes sal bereik, alhoewel die titel haar ‘n hupstoot kan gee.

“Alles gebeur nes dit moet gebeur, dit voel of die Here die pad vir my oopgemaak het want ek dra al klaar sy kroon, ek is ‘n koningskind.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Back to top button